Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Engeland het ‘n agterstand van 158 lopies teen Australië na die tweede dag van die derde toets om die As in Adelaide. Die gashere het vanoggend hul laaste paaltjie verloor op 371 nadat Alex Carey 106 aangeteken het. Engeland se kaptein, Ben Stokes, en Jofra Archer het daarna die boulers gefrustreer met ‘n onoorwonne vennootskap van 44 lopies om die negende paaltjie. Die Australiese draaibouler Nathan Lyon het sy 564ste toetspaaltjie ingepalm en sy landgenoot Glenn McGrath vervang in die sesde plek op die lys van meeste paaltjies.
Nog krieketnuus: Die vierde T20 tussen Suid-Afrika en Indië is gister afgestel weens mistige weerstoestande in Lucknow sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Skeidsregters het ses inspeksies uitgevoer om sigbaarheid te toets voor dit afgestel is. Die ongunstige weerstoestande is vererger deur die berugte lugbesoedeling met gevaarlik hoë giftigheidsvlakke. Indië loop 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Die vyfde en laaste kragmeting vind Vrydag in Ahmedabad plaas.
# Tennis: Suid-Afrika gaan volgende jaar 14 weke van die Internasionale Tennisfederasie se wêreldtoer-toernooie aanbied. Dit bestaan uit sewe vroue- en sewe manstoernooie. Die WIPHOLD Internasionale reeks sal die vierde agtereenvolgende jaar na Pretoria terugkeer en Mpumalanga sal gasheer wees vir die eerste Mbombela Ope-wêreldreeks. Ses weke van toernooie sal in Hillcrest, Durban, gehou word. TSA sê die uitgebreide kalender bied aan plaaslike spelers die geleentheid om tuis deel te neem, waardevolle wêreldranglys-punte te verdien en noodsaaklike internasionale ondervinding op te doen.
Intussen sal die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, en sy afrigter, Juan Carlos Ferrero, se paaie na sewe jaar skei. Die 45-jarige Ferrero het sy Spaanse landgenoot gehelp om 24 loopbaantitels te wen, insluitend al ses sy Grand Slam-titels, en agt ATP Meesters Een-duisend-krone. Geen redes is vir die stap verskaf nie. Alcaraz sê in ‘n inskrywing op sosialemedia dat Ferrero hom laat groei het as atleet, maar meer nog as mens. Alcaraz sal voortgaan om saam met Samuel Lopez te werk, wat verlede jaar by die span aangesluit het.
# En laastens, sokker: FIFA se raad het ʼn rekord-finansiële bydrae goedgekeur vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Die kompetisie sal 50-persent meer prysgeld ontvang om onder die 48 deelnemende spanne verdeel te word. Elke span sal minstens 175-miljoen-rand ontvang vir hul deelname aan die wêreldskouspel, terwyl die wenner met 835-miljoen-rand sal wegstap. FIFA se president, Gianni Infantino, sê dis grensverskuiwend wat die beheerliggaam se finansiële bydrae aan die wêreld se sokkergemeenskap betref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….