Nuus 12:00
BULLETIN 18 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê terrorisme dring nou alle streke in Afrika binne
# Australië stel nuwe maatreëls teen anti-Semitisme bekend ná die Bondi-strand-skietery
# En tennis: Suid-Afrika bied volgende jaar 14 weke van die ITF-wêreldtoer-geleenthede aan
# ‘n Politieke ontleder, Kenneth Mokgathle, sê terrorisme groei reg oor Afrika namate staatsgrepe, korrupsie en swak leierskap nasies blootstel. Volgens die Verenigde Nasies is die Sahel-streek tans verantwoordelik vir 19-persent van terroriste-voorvalle wêreldwyd. Mokgathle sê ekstremistiese organisasies, soos onder meer Jama’at Nusrat al-Islam wal Muslimeen en die Islamitiese Staat in die Groter Sahara, trek voordeel uit die leemte wat dalende internasionale ondersteuning teen tereur skep:
Australië se eerste minister, Anthony Albanese, sê intussen sy regering stel nuwe wette in wat gemik is op mense wat verdeeldheid, haat en ekstremisme versprei. Dit volg ná Sondag se massaskietery op Bondi-strand in Sydney waarin 15 mense dood is tydens ‘n Hanukkah-viering. Albanese sê die nuwe wette sal verhoogde strawwe vir haatspraak insluit en haatspraak sal ‘n verswarende faktor wees in die vonnisoplegging vir aanlyn dreigemente en teistering-misdade:
Terug in Suid-Afrika:
# Die N3-tolpadmaatskappy sê druk verkeer word ondervind op die tolroete in Gauteng, Mpumalanga, die Vrystaat en KwaZulu-Natal sedert die somervakansie verlede week begin het. Woordvoerder Thania Dhoogra sê hoë verkeersvolumes van tussen 12- en 13-duisend voertuie per dag is verlede naweek aangemeld by die De Hoek- en die Mooi-tolplaza in die rigting van Durban. Sy sê soortgelyke spitverkeerspatrone word hierdie naweek verwag.
In die suide het die Identikidz-kinderveiligheidsprogram sterk afgeskop op Kaapstad se strande, met byna 12-duisend kinders wat in die eerste twee dae geregistreer is. Die gratis veldtog help ouers en versorgers om kinders veilig te hou gedurende die besige somerseisoen deur identiteits-polsbandjies uit te reik wat met kontakbesonderhede verbind word, en dit makliker maak om hulle te herenig met versorgers as hulle verdwaal. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê Strandfontein, die Strand en Muizenberg is die besigste strande.
# Tennis: Suid-Afrika gaan volgende jaar 14 weke van die Internasionale Tennisfederasie se wêreldtoer-toernooie aanbied. Dit bestaan uit sewe vroue- en sewe manstoernooie. Die WIPHOLD Internasionale reeks sal die vierde agtereenvolgende jaar na Pretoria terugkeer en Mpumalanga sal gasheer wees vir die eerste Mbombela Ope-wêreldreeks. Ses weke van toernooie sal in Hillcrest, Durban, gehou word. TSA sê die uitgebreide kalender bied aan plaaslike spelers die geleentheid om tuis deel te neem, waardevolle wêreldranglys-punte te verdien en noodsaaklike internasionale ondervinding op te doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-803-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-327-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….