Nuus 11:00
BULLETIN 18 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê Ramaphosa sal die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag deeglik bestudeer
# Australië kondig nuwe maatreëls aan teen anti-Semitisme
# En tennis: Suid-Afrika bied in 2026 14 weke van ITF-wêreldtoer-geleenthede aan
# Die Presidensie het bevestig president Cyril Ramaphosa het die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag ontvang. Die kommissie wat politieke inmenging en korrupsie in die regstelsel ondersoek, het die afgelope drie maande getuienis van 37 mense aangehoor. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê hy gaan die tussentydse verslag bestudeer terwyl die kommissie voorberei om volgende jaar verdere getuienis aan te hoor van nuwe getuies of mense wat voorheen getuig het:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette word nie ingestel nie omdat die president dit nog moet proklameer. Ramaphosa het die omstrede wetgewing reeds in Maart onderteken. Dit sal die land se intelligensiedienste hervorm en die Staatsveiligheids-agentskap in afsonderlike plaaslike en buitelandse intelligensie-agentskappe opdeel. Ntshavheni sê die intelligensiedienste is besig met voorbereidingswerk om die wet toe te pas in afwagting op die proklamasie.
# Die Wes-Kaapse kommissaris van polisie, Thembisile Patekile, sê hulle is uiters bekommerd oor die skerp styging in misdaad in die provinsie. Misdaadstatistiek vir die tweede kwartaal van Julie tot September wys een-duisend-160 mense is in die provinsie vermoor. In dieselfde tydperk is 114 bendeleiers en 116 bendelede in hegtenis geneem. Patekile sê die wydverspreide beskikbaarheid van onwettige vuurwapens en ammunisie is ‘n groot dryfveer vir geweldsmisdaad:
Nuus uit die buiteland:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, sê sy regering stel nuwe wette in wat gemik is op mense wat verdeeldheid, haat en ekstremisme versprei. Dit volg ná Sondag se massaskietery op Bondi-strand in Sydney waarin 15 mense dood is tydens ‘n Hanukkah-viering. Albanese sê die nuwe wette sal verhoogde strawwe vir haatspraak insluit en haatspraak sal ‘n verswarende faktor wees in die vonnisoplegging vir aanlyn dreigemente en teistering-misdade:
# Tennis: Suid-Afrika gaan volgende jaar 14 weke van die Internasionale Tennisfederasie se wêreldtoer-toernooie aanbied. Dit bestaan uit sewe vroue- en sewe manstoernooie. Die WIPHOLD Internasionale reeks sal die vierde agtereenvolgende jaar na Pretoria terugkeer en Mpumalanga sal gasheer wees vir die eerste Mbombela Ope-wêreldreeks. Ses weke van toernooie sal in Hillcrest, Durban, gehou word. TSA sê die uitgebreide kalender bied aan plaaslike spelers die geleentheid om tuis deel te neem, waardevolle wêreldranglys-punte te verdien en noodsaaklike internasionale ondervinding op te doen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-635-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-334-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….