Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig mynaandele se rekordverhandeling het daarvoor gesorg dat die JSE ‘n kortkop van ‘n algehele hoogtepunt gesluit het te midde van onbestendige Amerikaanse markte. Platinumaandele het die voortou geneem met ‘n styging van meer as 12-persent in ‘n week.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die VSA en Suid-Afrika stamp weer koppe nadat die Departement van Binnelandse Sake sewe Keniaanse burgers aangehou het wat op toerismevisums in Suid-Afrika werk by die sentrum vir Afrikaner-vlugtelinge na Amerika. Die Keniane het intussen die land verlaat, maar die VSA soek ‘n verduideliking.
Dan skryf die webblad nagenoeg twee-duisend-700 motoriste is sedert 1 Desember op Suid-Afrikaanse paaie in hegtenis geneem. Altesaam een-duisend-500 van die arrestasies was vir dronkbestuur.
En laastens word berig digte mis het die Proteas se kanse gekelder in die T20-reeks teen Indië.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die MK-party het versoek dat die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, se beweerde rol in die moord in 2010 op die 16-jarige Kwazi Ndlovu tydens ‘n polisie-operasie in KwaZulu-Natal, ondersoek moet word.
En tweedens word berig die Gautengse owerhede het 64 mininus-taxi’s onpadwaardig verklaar.
# En The Citizen:
Lei met: “OUR RIVERS ARE SEWERS”. Die koerant skryf ‘n opname toon dat ‘n derde van die drinkwatervoorsiening uit riviere E.coli bevat. Dit word gesien as ‘n groter bedreiging as beurtkrag vir die Suid-Afrikaanse samelewing.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei soos Netwerk24 met die geskil tussen die VSA en Suid-Afrika oor die inhegtenisneming van die Keniane.
En tweedens skryf die koerant die Stad Kaapstad het alle Christelike verwysings uit hul kersliggies verwyder.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig agt mense is die afgelope drie dae in die Walmer-township doodgeskiet en die gemeenskap leef in vrees.
En tweedens skryf die koerant Oos-Kaapse gesinne gaan finansiële ondersteuning ontvang vir die uMgidi-inisiasievieringe.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die voorlopige verslag oor die Verulam-tempelramp is bekend gemaak en dit bevat ernstige aantygings oor die gebruik van swak boumateriaal.
En tweedens word berig die Msunduzi-munisipaliteit gaan sy finansiële plan hersien.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die skuld aan NamWater wat nou al by sowat drie-miljard-rand draai, hou ‘n ernstige bedreiging in vir nasionale watersekerheid.
Dan skryf die koerant daar heers ‘n dawerende stilte op owerheidsvlak of Starlink volgende jaar in Namibië sy buiging gaan maak of nie.
En laastens word berig die Tsumeb-munisipaliteit kort drie-miljoen-rand om bedrywighede by hul pas voltooide waterbehandelingsaanleg te begin.