Nuus 16:00
BULLETIN 17 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Macpherson versoek die ondersteuning van Wes-Kaapse polisie in sy ondersoek na die Redcliffe-tempel
# Verbruikers-inflasie daal tot 3,5-persent in November
# En sokker: FIFA kondig nuwe afslag-kaartjies vir die Wêreldbekertoernooi aan
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het die minister van Polisie, Firoz Kachalia, gevra om tussenprovinsiale samewerking te bemiddel in die ondersoek na die instorting van die Redcliffe-tempel in eThekwini, KwaZulu-Natal, waarin vyf mense dood en ses beseer is. Hy het hulp gevra van die Wes-Kaapse polisiespan wat die instorting van ‘n gebou in George ondersoek het. Macpherson sê dit sal tegniese vermoë versterk:
# ActionSA vra die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, om beslissend op te tree in die Lily-mynramp in Mpumalanga. Drie werkers is byna ‘n dekade gelede lewend begrawe. Thoko Mashiane van ActionSA sê om ‘n hofbevel te ignoreer en skuldiges nie te vervolg nie ondermyn die oppergesag van die reg en daar is geen geregtigheid vir slagoffers se gesinne nie, dus ook geen afsluiting nie:
# Statistieke Suid-Afrika sê verbruikersinflasie het verlede maand effens verlangsaam, met jaarlikse inflasie wat tot 3,5-persent gedaal het vanaf 3,6-persent in Oktober. Pryse het op ‘n maandgrondslag met 0,1-persent gedaal. Inflasie het in verskeie kategorieë gedaal, veral in vervoer, ontspanning en kommunikasie, te danke aan laer brandstof- en voertuigpryse. Patrick Kelly van Statistieke SA sê vervoerinflasie het tot 0,7-persent gedaal, met gebruikte voertuigpryse wat tans laer is as ‘n jaar gelede:
# Die prestasiekundige Ashwin Raja waarsku produktiwiteit en inkomste sal geraak word indien personeel se welstand nie bestuur word tydens die kleinhandel-feestydspitstyd nie. Suid-Afrika se besigste handelstydperk is op hande wat beteken handelsure verleng en werkslading neem toe. Raja sê werkers se prestasie word regstreeks verbind met geestesgesondheid en spanning. Hy sê indien welstand afgeskeep word, lei dit tot afwesigheid, swakker produktiwiteit en finansiële verlies.
# Sokker: FIFA het ‘n nuwe afslag-kaartjiekategorie aangekondig vir 2026 se Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Dit volg op teenkanting van ondersteunersgroepe wat FIFA daarvan beskuldig dat hy ondersteuners verraai vir wat hulle beskryf as astronomiese kaartjiepryse. Die wêreldbeheerliggaam het afgewyk van sy aanvanklike prysstruktuur, wat ‘n toename van byna 500-persent verteenwoordig vergeleke met 2022 se toernooi in Katar. FIFA het nou ‘n aantal vaste toegangskaartjies teen ongeveer een-duisend rand beskikbaar gestel vir al 104 wedstryde, insluitend die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-121-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….