Nuus 13:00
BULLETIN 17 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitvinder van Please Call Me verwerp arbitrasie in die uitbetalingsgeskil met Black Rock Mining
# Krieket: Australië eindig op 326 vir agt ná Alex Carey se honderdtal in die derde toets om die As
# En die Teddy Bear-kliniek waarsku oor veiligheidsgevare vir kinders tydens feestyd
# Please Call Me se uitvinder, Kenneth Makate, verwerp arbitrasie met sy voormalige regsbefondser, Black Rock Mining, wat 40-persent van sy skikking ter waarde van honderde-miljoene-rand met Vodacom eis. Berigte skat die uitbetaling op tussen 353- en 748-miljoen-rand. Black Rock hou vol Makate se verteenwoordiger, die sakeman Christiaan Schoeman, het ‘n geldige befondsingsooreenkoms onderteken. Daarvolgens moes die onderneming alle regskoste dek in ruil vir 40-persent van die uiteindelike uitbetaling. Makate betwis dit en sê die ooreenkoms is gekanselleer, maar Black Rock hou vol die arbitrasie sal voortgaan.
# Die ANC-Vroueliga eis dat die 50/50-beginsel streng ingestel moet word in alle ANC-strukture. Woordvoerder Boitumelo Moiloa sê dis baie moeilik om die nuutverkose streeksleierskap in Tshwane geluk te wens, asook ander streke waar slegs een vrou in die top-vyf verkies is. Sy sê hulle kan nie stilbly as manlike oorheersing in die geledere van hul eie organisasie kop uitsteek nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis oorweeg die instelling van strenger wapenwetgewing na die massamoord op Bondi-strand in Sydney. Premier Chris Minns sê die Parlement sal Maandag vergader om dringende hervormings te oorweeg, insluitend die beperking van die aantal vuurwapens wat ‘n enkele persoon mag besit en om dit moeiliker te maak om toegang te kry tot sekere soorte haelgewere. Die oorlewende aanvaller, die 24-jarige Naveed Akram, herstel in die hospitaal en sal teregstaan op 59 aanklagte, insluitend terrorisme en moord. Die polisie het sy 50-jarige pa, Sajid, doodgeskiet.
# Krieket: Australië het met uitskeityd gestaan op 326 vir agt op die eerste dag van die derde toets om die As teen Engeland in Adelaide. Alex Carey het sy derde honderdtal aangeteken met 106 lopies. Usman Khawaja, wat Steven Smith vervang het nadat hy weens siekte uitgelaat is, het 82 bygedra. Jofra Archer was Engeland se beste bouler en het drie paaltjies laat kantel. Engeland is 2-0 agter in die reeks van vyf toetse en moet wen om die stryd om die As lewend te hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-494-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-320-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: Die Teddy Bear-kliniek vir mishandelde kinders waarsku ouers om hierdie feestyd waaksaam te bly. Die kliniese direkteur, Shaheda Omar, sê kinders is nie altyd veiliger by die huis nie omdat hulle gewoonlik misbruik word deur mense wat hulle ken. Sy het aan SABC News gesê alkohol, minder toesig en sosiale geleenthede skep gevare. Omar waarsku ouers om kinders heeltyd in die oog te hou en nooit hul waaksaamheid te verslap nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….