Nuus 12:00
BULLETIN 17 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie verbind DJ Warras se moord aan gekaapte geboue
# Die GOOD-party sê geweld op die N2 duur voort en Kaapstad verskuif die skuld
# En Nieu Suid-Wallis oorweeg noodwapenwetgewing na die massamoord op Bondi-strand
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het sy meegevoel betuig na die moord op Warrick Stock, algemeen bekend as DJ Warras, gister in Johannesburg. McKenzie beskryf hom as ‘n gerespekteerde uitsaaier en kulturele figuur wat jong talent gekoester en Suid-Afrikaanse skeppendheid gevier het. Hy glo buitelanders betrokke by die kaping van geboue kan moontlik met die moord verbind word en sê die betrokkenes sal aanspreeklik gehou word:
# Die GOOD-party sê die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, se pogings om verantwoordelikheid vir geweldsmisdade op die N2 op die padagentskap SANRAL oor te plaas, is misleidend en teenstrydig. In die jongste voorval is ʼn 64-jarige afgetrede onderwyseres van Bloemfontein doodgesteek toe sy en haar man van die Kaapstadse Internasionale Lughawe weggery het. Woordvoerder Siyabulela Mamkeli sê SANRAL onderhou nie die N2 tussen die lughawe en die middestad nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis oorweeg die instelling van strenger wapenwetgewing na die massamoord op Bondi-strand in Sydney. Premier Chris Minns sê die Parlement sal Maandag vergader om dringende hervormings te oorweeg, insluitend die beperking van die aantal vuurwapens wat ‘n enkele persoon mag besit en om dit moeiliker te maak om toegang te kry tot sekere soorte haelgewere. Die oorlewende aanvaller, die 24-jarige Naveed Akram, herstel in die hospitaal en sal teregstaan op 59 aanklagte, insluitend terrorisme en moord. Die polisie het sy 50-jarige pa, Sajid, doodgeskiet.
Amerikaanse ondersoekbeamptes het intussen ‘n nuwe verbeterde video en foto vrygestel van die verdagte in die skietery by Brown Universiteit waarin twee studente dood is. Nege mense is gewond by die Ivy League-instelling op Rhode Island. ‘n Persoon van belang wat vroeër aangehou is, is intussen vrygelaat. Providence se polisiehoof, Oscar Perez, sê dis duidelik op die video hoe die persoon die gebied voor die misdaad gemonitor het:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter het die derde Suid-Afrikaner geword wat die PGA-toernooi se Nuweling van die Jaar is. Die ander is Ernie Els en Trevor Immelman. Die 21-jarige Mosselbaaise speler het die Arnold Palmer-toekenning opgeraap nadat hy die Rocket Mortgage Classic gewen en die jongste Suid-Afrikaner geword het wat ʼn PGA-toertitel opraap. Potgieter was die enigste nuweling wat hierdie seisoen se FedEx-beker-uitspeelrondes gehaal het en sy dryfhoue was gemiddeld 297 meter. Hy moes aan minstens 15 amptelike FedEx-toernooie deelgeneem het om die prys te kry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-594-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-314-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 59-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….