Nuus 08:00
BULLETIN 17 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê minister Malatsi werk binne die wet met berekking tot Starlink
# RISE Mzansi sê ware nasiebou word ondermyn
# En Donald Trump blokkeer alle olietenkskepe wat Venezuela binnekom of verlaat
# Die Presidensie sê die telekommunikasiereguleerder, ICASA, moet tyd gegun word om die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, se beleidsvoorskrifte onafhanklik te beoordeel. Die minister het in ‘n beleidsvoorskrif ICASA opdrag gee om buitelandse beleggers toe te laat om ondernemings te bedryf sonder 30-persent swart ekonomiese bemagtiging. Dit word beskou as ʼn manier om Elon Musk se Starlink in die land toe te laat sonder dat hy B-BBEE-vereistes ten volle nakom. Die presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Malatsi werk binne die wet:
# RISE Mzansi sê ware nasiebou word ondermyn deur die feit dat miljoene Suid-Afrikaners steeds uitgesluit word van betekenisvolle voordeel uit die nasionale ekonomie. Dit is die gevolg van swak regering, korrupsie, ‘n gebrek aan visie en ‘n gebrek aan politieke wil om ‘n regverdige samelewing te skep. RISE Mzansi se nasionale woordvoerder, Mabine Seabe, sê om ‘n nasie en nasionale identiteit te bou, moet landsburgers verskeie dinge eis van die wat verkies is om te dien:
# Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand sê maseluitbrekings in die provinsie neem toe en gebiede soos Khayelitsha, Mfuleni, Eersterivier, Somerset-Wes, Mitchells Plain en Citrusdal word geraak. Die woordvoerder, Monique Johnstone, sê witseerkeel-gevalle word ook in dele van die Kaapse metro hanteer. Sy skryf die vlaag voorvalle toe aan inentings wat nie gegee is nie. Johnstone sê klinieke sal in die feestyd oop bly en gratis inentings toedien om kinders en gemeenskappe te beskerm.
# President Donald Trump sê hy het opdrag gegee dat alle olietenkskepe wat Venezuela binnegaan of verlaat, geblokkeer word. Hy het Venezuela in ʼn inskrywing op Truth Social beskuldig dat hy Amerikaanse bates soos grond en olie steel. Hy beskuldig ook Nicolás Maduro se regering dat hy olie van gesteelde olievelde gebruik om homself, terrorisme, dwelmsmokkelary, mensehandel, ontvoering en moord te finansier. Die Amerikaanse weermag het se aanvalle op bote wat volgens berigte fentaniel en ander onwettige dwelms na Amerika vervoer, het sedert September tot die dood van minstens 90 mense gelei.
# Sokker: Bafana Bafana het in ʼn vriendskaplike wedstryd op die Dobsonville-stadion in Soweto ʼn 1-0-sege teen Ghana behaal. Dit was die Suid-Afrikaners se laaste kragmeting voor die span na Marokko vertrek vir die Afrikabekertoernooi wat vandag begin. Sipho Mbule het die wedstryd se enigste doel in die 57ste minuut behaal. Afrigter Hugo Broos was nie beïndruk met sy span se vertoning nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-424-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-317-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….