Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa het sewe internasionale bieërs benoem vir aanvanklike transmissieprojekte. Die groep sluit in Adani, State Grid en Cobra. Plaaslike firmas sal in later fases benoem word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig daar was gister botsende, uiteenlopende standpunte oor wat versoening in Suid-Afrika behels. Verskillende politieke partye het teenstrydige sieninge gehuldig. Die webblad gee ‘n oorsig van die standpunte.
Dan skryf die blad nagenoeg 40-duisend mense het gister by die Monument saamgetrek om die Gelofte te herdenk.
En laastens word berig die vyfjarige Armieke Smith van Mooketsi in Limpopo is uit die hospitaal in Tzaneen ontslaan nadat ‘n giftige skerpioen haar gesteek het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die polisie het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die moord op Warrick “DJ Warras” Stock gister in Johannesburg.
En berig die Madlanga-kommissie oorhandig vandag sy voorlopige verslag aan president Cyril Ramaphosa.
# En The Citizen:
Skryf die Hartbeespoort Gemeenskapsontwikkelingsinisiatief het kritiek uitgespreek oor die Menseregtekommissie se verslag oor huurkontraktoekennings by die Hartbeespoortdam. Die organisasie sê die kommissie ignoreer die rassediskriminasie in die gebied.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig twee fietsryers is kort na mekaar in verskillende voorvalle in die Wes-Kaap dood. Die 55-jarige Francois Esterhuizen van Worcester is Saterdagoggend dood toe hy deur ‘n voertuig getref is en die 41-jarige Idries Sheriff is gister dood toe hy in Valsbaai omgery is.
En tweedens skryf die koerant eiendomspryse in Kaapstad en teen die kus het die afgelope jaar met 26-persent gestyg.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die bekende Black Impala-restaurant in die Nelson Mandelabaai-hawe wat van eienaarskap verander het en nou as die Endaweni Tshisanyama bekend staan, is gehul in ‘n toutrekkery oor bates.
En tweedens bring die koerant hulde aan die vermoorde DJ Warras.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ondersoek na die tempel-tragedie in Verulam is afgehandel.
En berig die werk van professor Salim Safurdeen Abdool Karim in sy stryd teen MIV/Vigs en Covid is vereer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n bekende in rugbykringe en sakeman van Swakopmund, Sydney Taapopi Halupe is agter tralies vir die beweerde verkragting van ‘n 20-jarige vrou.
Dan skryf die koerant meer as 300-mm reën word vir sekere dele van die land in 2026 voorspel.
En laastens word berig die Universteit van Namibië het sy fooie bekend gemaak vir diegene wat nie by ‘n staatsubsidie baat nie.