Nuus 07:00
BULLETIN 17 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister McKenzie verdedig die regering van nasionale eenheid
# Laat aansoeke vir graad 1 en graad 8 in Gauteng open vandag
# En krieket: Die Protea-vroue beklink die eendagreeks teen Ierland
# Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die regering van nasionale eenheid verdedig en sê dit lewer werksgeleenthede, ekonomiese bestendigheid en lae inflasie. Hy het gister by die nasionale herdenking van Versoeningsdag in KwaZulu-Natal gepraat. McKenzie sê die RNE is verenig en sal verseker dat president Cyril Ramaphosa tot 2029 aan bewind bly:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê nie een van die 153 Palestynse reisigers wat verlede maand by OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom het, het asiel gevra nie. Slegs 23 het die nodige dokumentasie en bevestigde verblyf gehad, soos vereis deur die Immigrasiewet. Die oorblywende passasiers is aanvanklik nie verwerk nie. Schreiber het in antwoord op van ‘n vraag deur die Al Jama-ah-parlementslid, Imraan Ismail-Moosa, aan die Parlement gesê hy het met die Grensbestuursowerheid gepraat om die reisigers om humanitêre redes onder die sorg van Gift of the Givers toe te laat.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het kommer uitgespreek dat onwettige mynwerkers moontlik in Bapong, Noordwes, vasgekeer is nadat grond ingekalwe het. Ná ‘n besoek deur Natjoints-lede en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is minstens elf onwettige mynwerkers vasgetrek en beslag gelê op tien masjiengrawe. Masemola sê wetstoepassers moet weekliks inspeksie doen. Hy sê inwoners en operateurs moet regulasies nakom terwyl owerhede inspeksies en nakomingsmaatreëls verskerp:
# Die Gautengse Onderwysdepartement se aanlyn toelatingstelsel vir 2026 open vandag vir laat graad 1- en graad 8-aansoeke. Daar is tans tien-duisend-295 leerders wat nie geplaas is nie. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê laat aansoeke is gemik op ouers en voogde wat nie tydens die hoofaansoektydperk gereageer het nie en dié wie se aansoeke vir graad 1 en 8 nie volledig is nie:
# Die Verenigde Nasies se spesiale rapporteur, Ben Saul, vra ʼn onafhanklike en onpartydige ondersoek om te bepaal of owerhede geleenthede misgeloop het om die skietvoorval by Bondi-strand in Sydney, Australië, te voorkom. Minstens 15 mense, insluitend ʼn kind, is Sondag dood in die aanval op ʼn Joodse gemeenskap wat besig was om Hanukkah te vier. Een van die aanvallers is dood en die tweede verdagte, sy seun, is in die hospitaal. Saul het ʼn beroep op owerhede gedoen om seker te maak Australiese Moslems en migrante-gemeenskappe word nie blameer vir vermeende misdadigers se optrede nie.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt en Sune Luus het geskitter in die tweede Vroue-eendagwedstryd in die Baai. Suid-Afrika het Ierland met 74 lopies verslaan en loop 2-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Wolvaardt het 124 lopies bygedra en Luus 114 toe die gasvroue ʼn teiken van 375 vir ses gestel het, hul hoogste eendag-totaal ooit. Orla Prendergast het haar bes gedoen met 97, maar Leah Jones het drie paaltjies platgetrek en Ierland is beperk tot 301 in 47 boulbeurte en drie balle. Die laaste eendagwedstryd vind Vrydag in Johannesburg plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-67-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-711-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-315-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 59-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….