Nuus 13:00
BULLETIN 16 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum for South Africa veroordeel Shamila Batohi nadat sy by ’n ondersoek uitstap
# Adjunkminister Nel verteenwoordig Suid-Afrika by die Afrika-unie-sitting oor justisie en regsake in Kenia
# En sportnuus, Span Wes-Kaap word gekroon as nasionale skolesportkampioene
# Die Forum for South Africa striem die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, nadat sy by ‘n ondersoek uitgestap het. Die forumwoordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê Batohi se optrede toon geen respek vir die kommissie nie en ondermyn aanspreeklikheid. Die forum sê sy het die ondersoek aangevra maar later geweier om belangrike vrae te beantwoord. Hy eis dat sy terugkeer en die ondersoek se gesag respekteer:
# Die DA in KwaZulu-Natal het sy voortgesette ondersteuning aan premier Thami Ntuli bevestig ná ʼn mislukte mosie van wantroue deur MK-party en die EFF. Die DA se provinsiale leier, Francois Rodgers, het die provinsiale regering se bestendigheid geloof en sê die party bly verbind om swak bestuur in die provinsie om te keer. Hy het aan SABC News gesê die DA ondersteun Ntuli ten spyte van die klein meerderheid in die wetgewer:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, verteenwoordig Suid-Afrika by die Afrika-unie se 11de algemene sitting van die gespesialiseerde tegniese komitee oor justisie en regsake in Nairobi, Kenia. Die geleentheid oor twee dae fokus op die harmonisering van Afrika-regsraamwerke om integrasie, bestuur en ontwikkeling te ondersteun. Die komitee sal konsepwette en protokolle hersien wat verband hou met Agenda 2063 en die Afrika-vryhandelsooreenkoms om die oppergesag van die reg en streeksamewerking te versterk.
# Die polisie het ʼn onderhoof van die Samit Christian Academy in Tembisa aan die Oos-Rand gearresteer in verband met die moord op die skoolhoof, Simon Lubisi. Die 61-jarige Lubisi is vroeg Sondagoggend by sy huis in die Maokeng-uitbreiding doodgeskiet en sy vrou en seun is aangerand. Gauteng se adjunk-polisiekommissaris, Fred Kekana, sê vier verdagtes het by die huis ingebreek en een is gister aangekeer. ʼn Saak van moord en huisroof word ondersoek. Nog verdagtes is op vrye voet en die motief is onbekend.
# Die twee vermeende gewapende mans wat ʼn Hanukkah-geleentheid op die Bondi-strand in Sydney aangeval het, het na die Filippyne gereis voor die aanval. Hulle is blykbaar deur die Islamitiese Staat geïnspireer. Die aanval Sondag is die ergste massaskietvoorval in Australië in byna 30 jaar en word ondersoek as ʼn terroriste-aanval op die Joodse gemeenskap. Die dodetal staan op 16 en sluit een van die vermeende aanvallers in wat deur die polisie geskiet is. Sy seun en vermeende medepligtige is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.
# En ten slotte, die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het Span Wes-Kaap gelukgewens nadat hulle as nasionale kampioene aangewys is by die 2025 Nasionale Skolesportkampioenskap. Die provinsie het uitnemende prestasies behaal in herfs-, winter- en somerspele, en die beste gedoen in atletiek, swem, rugby en netbal. Mackenzie het die leerders, afrigters en skole se toewyding geloof en sê die sukses weerspieël sterk jeugontwikkeling. Die Onderwys-LUR, David Maynier, het ook die provinsie se toekomstige sportsterre geloof.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….