Nuus 11:00
BULLETIN 16 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê privaat elektrisiteit bevorder energiesekerheid
# ’n Ontleder waarsku die MK-party in KZN om die mosie van wantroue se uitslag te aanvaar
# En, die Stad Kaapstad wil R180-miljoen begroot om ‘n veiligheidsmuur langs die N2-snelweg op te rig
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê nuwe opwekkingskapasiteit deur privaat vervaardigers lewer positiewe resultate. Ramokgopa het gister voorkeur-bieërs vir die eerste fase van die onafhanklike transmissieprojek aangekondig. Ramokgopa het ook bykomende bieërs aangekondig onder Bod-venster 7 van die verkrygingsprogram vir hernubare energie van onafhanklike kragverskaffers. Hy sê toenemende deelname uit die privaat sektor versterk netwerkkapasiteit, energiesekerheid en ondersteun pogings om elektrisiteitsvoorsiening te stabiliseer:
# Die politieke ontleder Ntsikelelo Breakfast sê die MK-party moet die uitslag van die mislukte mosie van wantroue in KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, aanvaar en demokratiese prosesse respekteer. Lede van die MK-party en die EFF het gister in die wetgewer met geweld gereageer toe speaker Ntobeko Boyce teen geheime stemming beslis het. Breakfast het aan SABC News gesê die partye moet amptelike griefprosedures volg en verskille institusioneel hanteer:
# Die Stad Kaapstad gaan R180-miljoen belê om ‘n veiligheidsmuur langs die N2-snelweg op te rig, veral in die omgewing van die Kaapstad Internasionale Lughawe. Hierdie inisiatief is daarop gemik om die kommerwekkende toename in geweldsmisdaad teen motoriste in die gebied te bekamp, wat vererger word deur voortdurende gryp-en-ry-aanvalle en ander gevaarlike voorvalle. Alhoewel die N2 as ‘n nasionale pad deur SANRAL en die provinsiale owerhede bestuur word, het burgemeester Geordin Hill-Lewis gepleit vir die konstruksie van die veiligheidsmuur as deel van die stad se volgende kapitaalbegroting.
# Die Johannesburgse Metropolisie sê 173 motoriste is in slegs een week tydens die Tshela Thupa-feestydbedrywighede vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Hulle waarsku dat bestuur onder die invloed ‘n kriminele oortreding is en oortreders kan swaar boetes of moontlike tronkstraf opgelê word, en loop gevaar om hul rybewyse te verloor. Die woordvoerder van die JMPD, Xolani Fihla, sê dronkbestuur is gevaarlik en plaas lewens in gevaar:
# President Donald Trump van Amerika is gestriem na opmerkings oor die vermoorde filmregisseur, Rob Reiner. Trump het op Truth Social gesê Reiner en sy vrou is vermoor weens woede wat hy veroorsaak het omdat hy aan die sogenaamde Trump Derangement Syndrome gely het. Patrick Schwarzenegger, Whoopi Goldberg, Kalifornië se goewerneur Gavin Newsom en die Republikein Thomas Massie het Trump ook gekritiseer en sy opmerkings “siek” en “kleinlik” genoem. Die fliekmaker se 32-jarige seun, Nick, is op aanklagte van moord gearresteer. Hy het ‘n geskiedenis van verslawing en geestesgesondheidprobleme.
# Rugby: Die Walliese kaptein, Jac Morgan en sy spanmaat, Dewi Lake, verlaat albei aan die einde van die seisoen die Walliese-klub Ospreys om vir die Engelse span Gloucester te gaan speel. Dit volg na bespiegelinge oor die aantal professionele Walliese klubs wat teen 2027 van vier tot drie verminder sal word. Dit kan daartoe lei dat Ospreys en Scarlets in ‘n stryd om oorlewing betrokke is. BBC News berig dat meer as 80 Walliese spelers aan die einde van die seisoen sonder kontrakte sal wees, met die nasionale span wat op ‘n geskiedkundige laagtepunt is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….