Nuus 09:00
BULLETIN 16 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga moet nasionale vernuwing en maatskaplike samehorigheid najaag
# Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede waarsku oor verhoogde finansiële misbruik van vroue en gestremdes gedurende die feestyd
# En motorsport: Suid-Afrika word sterk verteenwoordig in die 2026 Dakar-tydren
# Die ANC-jeugliga moet fokus op nasiebou, maatskaplike samehorigheid en bemagtiging. Die ANC-president Cyril Ramaphosa het by die 27ste Nasionale Kongres in Limpopo gesê die liga moet verby ambisies beweeg en nasionale probleme aanpak. Ramaphosa sê organisatoriese vernuwing moet nasionale verjonging komplementeer. Hy het prioriteite uiteengesit soos die ANC se vernuwing as ‘n agent van verandering en die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei:
# Die Departement van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede sê daar is ‘n verhoogde risiko van finansiële mishandeling teen vroue en persone met gestremdhede gedurende die feestyd. Dit sluit in die beheer van toegang tot geld, die misbruik van inkomste of maatskaplike toelaes, die afdwing van skuld en die uitbuiting van ekonomiese afhanklikheid. Cassius Selala van die Departement waarsku dat finansiële mishandeling ‘n vorm van huishoudelike geweld is en dring daarop aan dat gemeenskappe en owerhede waaksaam moet wees:
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, sê hy is diep bedroef oor die tragiese dood van die skoolhoof van die Samit Christian Academy in Kemptonpark. Die skoolhoof is Sondag tydens ‘n huisroof in Tembisa vermoor. Die polisie het ‘n verdagte in verband met die misdaad in hegtenis geneem. Steve Mabona van die Departement het die aanval veroordeel en ‘n beroep gedoen op sterker gemeenskaps-veiligheidsmaatreëls en meer beskerming vir onderwysers en skoolleiers:
# Die regering van die Wes-Kaap help Knysna om ‘n watertekort tydens die vakansie te hanteer. ‘n Gesamentlike operasionele komitee sal met plaaslike, provinsiale en nasionale owerhede saamwerk om die dorp se watervoorraad bestendig te hou. Onmiddellike stappe sluit in die installering van ‘n nuwe pomp by die Akkerkloofdam, en die herstel van lekkasies en boorgate. Die LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, sê Knysna is onder vlak vier-waterbeperkings en hy vra inwoners om water versigtig te gebruik.
# Die Hooggeregshof in Hongkong het die mediamagnaat en demokrasie-kampvegter Jimmy Lai skuldig bevind aan sameswering om met buitelandse magte saam te werk. Hy kan ‘n lewenslange vonnis opgelê word. Die verhoor is die mees opspraakwekkende onder die stad se nasionale sekerheidswet, wat in Junie 2020 deur China ingestel is. Beijing beskou die 78-jarige as ‘n meesterbrein agter die 2019-betogings en ‘n samesweerder wat Amerikaanse sanksies teen Hongkong en die vasteland bepleit. ‘n Voorvonnisverhoor waar Lai om versagting kan pleit, vind op 12 Januarie plaas.
# En motorsport: Suid-Afrika sal weereens ‘n sterk teenwoordigheid in die Dakar-tydren hê, wat op die derde van volgende maand by Yanbu in Saoedi-Arabië begin. Dit eindig agt-duisend-kilometer later op die 17de, ook langs die Rooi See. Suid-Afrikaanse deelnemers sluit in Saood Variawa, Guy Botterill, Henk Lategan, Brett Cummings, Brian Baragwanath, Leonard Cremer en Leander Pienaar. Giniel de Villiers het verlede jaar sy roemryke 22-jaar lange loopbaan in die veeleisende tydren afgesluit. Verskeie voertuie wat in Suid-Afrika gebou is sal ook in aksie wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….