Nuus 17:00
BULLETIN 15 Desember 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika publiseer die finale G20 by 20-oorsig
# Die mosie van wantroue in KZN-premier Thami Ntuli misluk
# En, Minister Buti Manamela verseker die integriteit van kwalifikasies te midde van die Educor-registrasiehersiening
# Suid-Afrika het die finale G20 by 20-oorsig uitgegee, wat verwys na die beraad se afgelope twee dekades. Die verslag, wat vir 2025 onder Suid-Afrikaanse presidentskap vrygestel is, evalueer die eerste volledige siklus van G20-presidentskappe sedert 2008 en maak aanbevelings vir die toekoms. Presidensie-woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die oorsig beklemtoon die G20 se rol in die versterking van multi-lateralisme, die bemiddeling van globale samewerking en om gedeelde ekonomiese en krisisverwante uitdagings aan te spreek:
# Die MK-party se mosie van wantroue teen die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, is verwerp en Ntuli sal in die amp aanbly. Verrigtinge in die provinsiale wetgewer is ontwrig toe MK- en EFF-lede ‘n geheime stemming geëis het, met versetoptrede in die gebou. Ondersteuners van verskillende partye het voor die wetgewer bymekaargekom. Die raad se speaker, Nontembeko Boyce, het vroeër beslis dit sal ‘n oop stemming wees en oproepe vir ‘n geheime stemming verwerp:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die voorgestelde kansellasie van die privaat instellings, City Varsity, Damelin en ICESA City Campus, beïnvloed nie studentekwalifikasies nie. In ‘n onderhoud met eNCA het Manamela gesê die besluit is ingevolge die wet geneem. Hy het bevestig dat vorige en huidige akademiese uitslae steeds geldig bly, en die regering sal studente lei om hul studies te voltooi sodra die onderrigplanne vir 2026 gefinaliseer is:
# Die Indonesiese president, Prabowo Subianto, sê bedrywighede in dele van Sumatra wat deur dodelike vloede getref is, kan binne die volgende twee tot drie maande terugkeer na normaal. Die ramp het meer as ‘n duisend lewens geëis. Minstens 206 mense word steeds vermis nadat ‘n sikloon vloede en grondstortings veroorsaak het wat huise vernietig het. Subianto sê owerhede sal binnekort honderde tydelike huise bou vir ontwortelde mense. Die heropbou-proses sal na verwagting minstens 50-miljard-rand kos. Sowat 200 mense is ook in Thailand en Maleisië dood weens die storms.
# Krieket: Die Engelse kolwer Harry Brook erken hy sal dalk sy aggressie ‘n bietjie moet inperk wanneer die Stryd om die As môre in die derde toets in Adelaide voortgesit word. Hy het tot dusver 98 lopies oor vier beurte bygedra en erken hy het twee van sy paaltjies in Perth en Brisbane as gevolg van roekelose houe verloor, en dit anders sou doen as hy weer die kans kon kry. Die onderkaptein sê Engeland se spelers het besluit om op die oomblik te konsentreer en nie te ver vooruit te kyk nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-510-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-339-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….