Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Jayden Schaper van Suid-Afrika het met ‘n arend op ‘n uitspeelputjie geslaag om sy landgenoot en verdedigende kampioen Shaun Norris te verslaan en die Alfred Dunhill-kampioenskap in Johannesburg te wen. Hulle was gelykop op 16 onder nadat die toernooi tot 54 putjies verminder is, en dit was Schaper wat ‘n eerste DP World-toer-oorwinning op die eerste uitspeelputjie behaal het. Die Spanjaard Eugenio Chacarra was derde. Schaper sê die oorwinning was spesiaal:
# Krieket: Indië het Suid-Afrika met sewe paaltjies verslaan in die derde T20 in Dharamshala en loop 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Arshdeep Singh, Harshit Rana, Varun Chakravarthy en Kuldeep Yadav het elk twee paaltjies platgetrek en die Proteas uitgeboul vir 117. Kaptein Aiden Markram het die beste telling van 61 behaal. Die Indiese aanvangskolwer, Abhishek Sharma, het daarna 35 van 18 balle behaal en die gashere het die teiken bereik met 25 balle oor. Die vierde T20 vind Woensdag in Lucknow plaas.
Nog krieketnuus: Die naatbouler Josh Tongue vervang vir Gus Atkinson in die enigste verandering aan Engeland se span vir die belangrike derde toets om die As teen Australië wat Woensdag in Adelaide begin. Engeland is reeds 2-0 agter in die reeks van vyf na hulle met agt paaltjies verloor het in Perth en Brisbane. Die veelsydige Will Jacks word behou as aangewese draaibouler terwyl Shoaib Bashir nog nie sy plek kon oopspeel nie. Tongue het die meeste paaltjies vir Engeland platgetrek in die toetsreeks teen Indië in Julie en Augustus.
# Rugby: Die Engelse klub, Northampton Saints, het die Bulle 50-5 afgeransel in die Kampioenebekerreeks op Franklin Gardens, om die maksimum punte van hul eerste twee wedstryde te behaal. Die gashere het agt drieë gedruk en George Hendy het met ‘n driekuns gespog. Stravino Jacobs het die Bulle se enigste drie gedruk. Saints is nou boaan die punteleer terwyl Bordeaux Bègles ook tien punte het. Die Bulle het ook verlede naweek tuis 46-33 teen Bordeaux verloor.
# En sokker: Manchester City het Crystal Palace 3-0 verslaan en is slegs twee punte agter die Premierliga-voorloper, Arsenal. Die Gunners se oorwinning Saterdag oor Wolves het die gaping tot vyf punte vergroot. Erling Haaland het twee doele aangeteken en Phil Foden spog met ses doele in vyf wedstryde. Pep Guardiola se span het tot dusver vier agtereenvolgende Premierliga-seges behaal. In ander wedstryde het Aston Villa 3-2 koning gekraai oor West Ham, Newcastle United het 1-0 teen Sunderland verloor en Nottingham Forest het Tottenham Hotspur 3-0 verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….