Nuus 11:00
BULLETIN 15 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra groter beskerming vir die land se kinders
# Activists and Citizens Forum sê die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag kan nie geheim gehou word nie
# En die Hollywood-akteur en -regisseur Rob Reiner en sy vrou word dood aangetref in hulle huis in Los Angeles
# President Cyril Ramaphosa sê die beste manier om Suid-Afrika se toekoms te verseker, is om te belê in die gesondheid, veiligheid en welstand van sy kinders. ‘n Verslag van Statistieke Suid-Afrika toon dat kinderarmoede in 2023 afgeneem het, maar die kinder-armoedekoers is steeds die hoogste vir enige ouderdomsgroep. Intussen is meer as 26-duisend gevalle van kindermishandeling en -verwaarlosing in die 2024/25-boekjaar aangemeld. Ramaphosa sê in sy weeklike nuusbrief die kinders se huidige ervaring sal die nasie se maatskaplike en ekonomiese welstand oor die volgende 20 jaar bepaal.
# Die Activists and Citizens Forum is bekommerd oor berigte dat die Madlanga-kommissie se tussentydse verslag nie openbaar gemaak gaan word nie. Ramaphosa het die ondersoek gelas na plofbare bewerings deur KwaZulu-Natal se polisie-kommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, oor korrupsie en inmenging in die strafregstelsel. Woordvoerder Dennis Bloem sê Suid-Afrikaners sal nie die besluit aanvaar om die verslag geheim te hou nie:
# KwaZulu-Natal se wetgewer stem vandag oor ‘n mosie van wantroue teen premier Thamsanqa Ntuli. Die mosie, wat deur die MK-party ingedien is, beskuldig Ntuli van finansiële wanbestuur en leierskapsmislukkings sedert hy in Junie verlede jaar premier geword het. Die MK-party wil die provinsiale regering oorneem met die hulp van die EFF en die NVP, wat nie meer deel is van die provinsiale koalisieregering van die ANC, DA en IVP nie. Die IVP-jeugbrigade het die mosie as politieke grootpratery afgemaak.
Nuus uit die buiteland:
# Los Angeles se polisie ondersoek ‘n vermeende dubbelmoord nadat die 78-jarige Hollywood-akteur en -regisseur, Rob Reiner, en sy 67-jarige vrou, Michele, dood aangetref is in hul huis in Brentwood. ʼn Familielid het afgekom op die egpaar, wat steekwonde gehad het. Reiner het gewilde klassieke rolprente soos This Is Spinal Tap, Stand by Me, en When Harry Met Sally geregisseer nadat hy ʼn hoofrol gespeel het in die uiters gewilde sitkom, All in the Family. Die egpaar se familie beskryf hulle dood as tragies.
# Krieket: Engeland se afrigter, Brendon McCullum, glo hulle het ʼn goeie kans om die reeks om die As teen Australië om te keer. Die besoekers is met agt paaltjies verslaan in die eerste twee toetse in Perth en Brisbane en het ‘n oorwinning nodig in dié week se derde wedstryd in Adelaide om die reeks van vyf kragmetings te red. McCullum sê hulle sal waarskynlik nie hulle kolforde verander nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-614-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-342-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….