Nuus 07:00
BULLETIN 15 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika veroordeel die dodelike terroriste-aanval by Australië se Bondi-strand
# AfriForum beweer die staat betaal joernaliste om die organisasie te beswadder
# En krieket: Indië wen die derde T20 teen Suid-Afrika met gemak
# Suid-Afrika het sy medelye aan Australië oorgedra na gister se terroristeaanval op die Bondi-strand in Sydney. Minstens 15 mense is dood en 40 gewond toe twee gewapende mans losgebrand het op ‘n skare wat die begin van Hanukkah, ʼn Joodse vakansie, gevier het. Die slagoffers sluit ʼn Brits-gebore rabbi en ʼn Israelse burger in. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika veroordeel die sinnelose geweld:
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê intussen hy glo die Australiese regering het anti-Semitisme aangemoedig deur sy stilswye oor die sentiment teen Jode in die land. Netanyahu sê hy het vier maande gelede aan die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, geskryf en gewaarsku sy regering se beleid bevorder anti-Semitisme:
# AfriForum het aansoeke by die Staatsveiligheidsagentskap en die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking ingedien, om ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, bekend te maak watter joernaliste, akademici en kommentators na bewering deur die staat betaal word om openbare mening te beïnvloed. Afriforum-hoof Kallie Kriel beweer twee joernaliste word vergoed om AfriForum en Solidariteit in ‘n slegte lig te stel. Die agentskappe het 30 dae om te reageer, voor die saak na die Inligtingsreguleerder of die howe verwys word:
# Al Jama-ah het die parlement se uitstel van die spertyd vir geskrewe voorleggings op die voorgestelde Apartheidwet tot Februarie 2026, verwelkom. Die wet het ten doel om Suid-Afrika se verpligtinge onder die VN Konvensie oor Apartheid af te dwing. Die partyleier Ganief Hendrick sê die proses laat groter openbare deelname toe. Hy hou vol die wetsontwerp sal nie godsdiensvryheid ondermyn nie en sal bydra tot aanspreeklikheid vir apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom:
# ‘n Oos-Kaapse regter van die Hooggeregshof gaan voor die Regterlike Gedragstribunaal verskyn na ‘n beweerde rassitiese aanmerking teenoor ‘n werknemer van die hof. Die Geregtelike Dienskommissie het aanbeveel ‘n tribunaal moet bewerings teen regter Belinda Hartle ondersoek. Indien sy skuldig bevind word aan die beweerde gedrag, kan dit uitloop op klag van ernstige wangedrag. Die klag is gelê deur die registrasieklerk, Thozamile Semekazi, wat aanvoer sy het hom gevloek en die K-woord gebruik in ‘n onderonsie in Mei 2025 en dat dit tot episodes van depressie gelei het. Regter Hartle het die bewerings ontken.
# Krieket: Indië het Suid-Afrika met sewe paaltjies verslaan in die derde T20-wedstyd Dharamshala en loop met 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde. Arshdeep Singh, Harshit Rana, Varun Chakravarthy en Kuldeep Yadav het elk twee paaltjies platgetrek en die Proteas was op 117 almal uit. Kaptein Aiden Markram het die beste gekolf en spog met 61 van 46 balle. Die aanvangskolwer, Abhishek Sharma, het daarna 35 van 18 balle behaal en die gashere het die teiken bereik met 25 balle oor. Die vierde T20 vind Woensdag in Lucknow plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-117-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-321-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….