Nuus 1 nm
BULLETIN 14 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola bevestig diplomatieke gesprekke met ambassades oor G20-kommer
# Die KZN-regering prioritiseer reddingspogings na ineenstorting van Verulam-tempel
# Die nasien van matriekvraestelle is landwyd suksesvol afgehandel
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het bevestig Suid-Afrika skakel met verskeie ambassades weens kommer oor Amerika se optrede in die G20. Lamola het in ‘n onderhoud met SABC News beklemtoon Suid-Afrika, as ‘n stigterslid van G20 en deel van die Troika, vra nie ‘n boikot deur ambassades nie. Hy moedig lande aan om Washington DC te betrek en multilateralisme en G20-beginsels te steun:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, sê alles moontlik word gedoen om oorlewendes na die Verulam-tempel se ineenstorting te red. Vier liggame is gister gevind en nog een vandag, terwyl soek- en reddingspogings voort duur. Buthelezi het bevestig die reddingsoperasies word gelei deur eThekwini en die SAPD se soek- en reddingsafdeling in KZN, en Nasionale Rampbestuur met ondersteuning deur Wes-Kaapse spanne. Buthelezi het gesamentlike pogings deur die regering en private rolspelers geloof:
# Die Departement van Basiese Onderwys sê die nasien van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaateksamen is gister suksesvol in al 183 nasiensentrums in die land afgehandel. Die departement het nasieners geloof vir gehaltewerk ten spyte van streng tydraamwerke. Die woordvoerder van die departement, Terence Khala, het die nasieners in KwaZulu-Natal uitgesonder wat aanhou werk het ten spyte van stormskade, en spanne wat eksamenoortredings identifiseer en aangemeld het en so die stelsel se integriteit beskerm het:
# Die burgerlike beweging Soil of Africa het gewaarsku teen die afwatering van die stryd teen geslagsgeweld tot ‘n blote slagspreuk. Dit volg na die einde van die 16 Dae van Aktivisme-veldtog. Die groep se woordvoerder, King Bongani Ramontja, het verwys na die gruwelike moord op twee jong meisies in Mamelodi as bewys van ‘n nasionale krisis. Hy veroordeel die stilswye en sistemiese mislukkings en vra besliste optrede. Hy sê ware leierskap red lewens:
# ‘n Organisasie sonder winsoormerk wat deur die Amerikaanse Kongres getaak is om te help met die bewaring van geskiedkundige terreine, het die Withuis gedagvaar om bouwerk aan president Donald Trump se nuwe balsaal te stop. Die Nasionale Trust vir Geskiedkundige Bewaring voer aan dat die Withuis versuim het om die nodige toestemming te verkry voordat die Oosvleuel gesloop is. Die regsgeding is die eerste groot aksie teen die balsaalprojek. Die Oosvleuel is in Oktober gesloop om plek te maak vir Trump se multimiljoen-dollar-balsaal, wat hy sê deur private skenkers betaal word.
# En sokker: Orlando Pirates het die jaar op ‘n hoogtepunt afgesluit met Saterdag se Carlingbeker-oorwinning van 2-0 oor die Carling All Stars in die Moses Mabhida-stadion in Durban. Die plaasvervangers in die tweede helfte, Sifiso Luthuli en Boitumelo Radiopane, het hul kant gebring nadat Abdeslam Ouaddou se span in die eerste 45 minute teen die All Stars gesukkel het. Luthuli het in die 68ste minuut ‘n doel aangeteken met Radiopane wat die oorwinning in die 80ste minuut beklink het. Die Carlingbeker vind plaas tussen die wenners van die Carling-uitklopbeker en ‘n All-Starsspan wat deur ondersteuners gekies word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….