Nuus 08:00
BULLETIN 14 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Dwan Macpherson sê die fokus is nou om die mense te red wat in die Redcliffe-gebou vasgekeer is
# Solly Malatsi verdedig die beleidsriglyn oor eienaarskap-nakoming
# En in Krieket: Die Proteas-vroue wen die eerste eendagtoets met 7 paaltjies
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het sy ondersteuning vir reddingswerkers uitgespreek nadat ‘n tempel in Redcliffe, KwaZulu-Natal, ineengestort het. Vier liggame is reeds herwin. Reddingsoperasies duur voort te midde van uitdagende weer en onbestendige strukture, met die primêre fokus nou om moontlike oorlewendes wat nog vasgekeer is, te red. Macpherson sê ondersoeke na die oorsaak van die ineenstorting sal plaasvind sodra die reddingsoperasie afgehandel is:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, sê die Wet op Elektroniese Kommunikasie en die Wet op die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika bemagtig hom om beleidsrigtings in lyn met nasionale wette uit te reik. Hy het reageer op die ANC se kommer oor ‘n Staatskoerantkennisgewing wat alternatiewe nakoming toelaat. Malatsi het aan die SABC gesê die riglyn gee nie voorskrifte aan OKOSA nie. Na sy mening is dit in ooreenstemming met wettige raamwerke:
# Omgewingsorganisasies het ‘n regsgeding in die Hooggeregshof in Pretoria aanhangig gemaak teen vrystellings wat deur die regering toegestaan is en Eskom toelaat om Minimum Emissiestandaarde by agt steenkoolkragstasies te omseil. Die Vukani Environmental Movement, groundWork en Earthlife Africa voer aan dat die Wet op Luggehalte dit nie toelaat nie en sê die besluit ondermyn die grondwetlike reg op skoon lug. Hulle wil hê dat die Maart-uitspraak ongeldig verklaar word en Eskom verplig word om aan besoedelingslimiete te voldoen en gereeld vorderingsverslae lewer.
# Die Israeliese weermag sê die senior Hamas-bevelvoerder Raed Saed is Saterdag in ‘n aanval op ‘n motor in Gaza-Stad vermoor. Saed was een van die argitekte van die aanvalle op Israel op 7 Oktober 2023. Dit was die mees prominente sluipmoord op ‘n senior Hamas-figuur sedert ‘n wapenstilstandooreenkoms in Gaza in Oktober in werking getree het. Volgens die gesondheidsowerhede in Gaza is vyf mense dood en minstens 25 ander gewond in die aanval op die motor. Daar was geen onmiddellike bevestiging van Hamas of mediese personeel dat Saed wel onder die slagoffers is nie.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse bouler Nonkululeko Mlaba het Saterdag die stadige toestande op Buffalo Park uitgebuit en in haar tien boulbeurte drie paaltjies platgetrek vir die verlies van 43 om Ierland tot 209 vir sewe te beperk in die eerste eendagtoets in Oos-Londen. Die spel het 90 minute laat begin nadat die swaar reën van Vrydag op die veld beland en die wedstryd tot 47 boulbeurte per span beperk het. Die Suid-Afrikaanse vroue het hul teiken bereik met tien boulbeurte oor en geantwoord met 211 vir die verlies van drie paaltjies. Die tweede Toets vind Dinsdag in Gqeberha plaas.
# En gholf: Die stryd vir ‘n oorwinning by die Alfred Dunhill-kampioenskap het vanoggend om 6:30 hervat nadat die derde rondte gestaak moes word weens swak weer by die Royal Johannesburg. Die meeste deelnemers kon gister nie die derde rondte begin nie nadat reën op die Oos-baan geval het. Sedert Maandag het daar 150 millimeter reën op die baan geval. Die toernooi sal nou ‘n 54-putjie-kompetisie wees. Eugenio Chacarra van Spanje het die oggend as leier begin op 15 onder baansyfer, voor Jayden Schaper op 13 onder, en John Parry en Branden Grace op 12 onder baansyfer..
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….