Nuus 07:00
BULLETIN 13 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU eis verantwoording na die noodlottige ineenstorting van die Redcliffe-gebou
# Shamila Batohi word streng ondervra oor ‘n beweerde regsblokkering in ‘n tienermoordsaak
# En ’n kenner waarsku Eskom kan weerstand bied teen die verlies van beheer oor die verspreidingsnetwerk
# Cosatu sê daar is herhaaldelike veiligheidsprobleme in die bousektor. Dit volg na die dood van minstens twee werkers toe ‘n gebou gister in Redcliffe in KwaZulu-Natal ineengestort het. Drie werkers is steeds vasgekeer nadat die vierverdieping-tempel wat onder konstruksie was, oor die middaguur ineengestort het. Woordvoerder Zanele Sabela sê die voorval kom ooreen met die George-tragedie van 2023 in die Wes-Kaap. Sy dring aan op dringende reddingspogings, deeglike ondersoeke en strafregtelike aanklagte vir enige oortreding:
# Tembeka Ngcukaitobi, die prokureur van die geskorste Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, het tydens die Nkabinde-ondersoek die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, uitgedaag oor bewerings in die moordsaak van die 16-jarige Kwazi Ndlovu. Die slagoffer se familie beweer bewyse is onderdruk en die saak verkeerd hanteer. Ngcukaitobi wou weet waarom Batohi nie ‘n onafhanklike ondersoek gelas het nie en waarom sy die verdagte wou vryspreek terwyl sy die familie se klag weggelaat het:
# Die United Africans Transformation sê Suid-Afrikaanse werkgewers sukkel alreeds om werkers met basiese vaardighede soos geletterdheid, syfervaardigheid, en probleemoplossing te vind. Die party waarsku die handhawing van ‘n slaagsyfer van 30-persent in skole vererger hierdie vaardigheidsgaping, wat leerders onvoorbereid laat vir die eise van die moderne werkplek en hul toekomstige werksgeleenthede beperk. Die woordvoerder van UAT, Mighty Mabule sê die lae drempel verberg sistemiese probleme in onderwys:
# Die energiespesialis, Professor Anton Eberhard sê elemente binne Eskom is gekant teen die afsplintering van die Nasionale Transmissiemaatskappy tot ‘n volledig onafhanklike operateur. Eberhard het aan MyBroadband gesê die vestiging van ‘n mededingende elektrisiteitsmark hang daarvan af om transmissie van Eskom se oorheersing te skei. Dit volg na Nersa se goedkeuring van die transmissiemaatskappy as Suid-Afrika se eerste markoperateur. Hy sê om die transmissiemaatskappy onder Eskom te hou sal tot botsende belange lei. Die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering vereis volle onafhanklikheid teen 2029.
# Die Oekraïense president Volodymyr Zelensky sê meer as vier weke nadat Svitlana Hrynchuk en German Galushchenko afgedank is as onderskeidelik ministers van Energie en Justisie, is daar nog geen plaasvervangers gevind nie. Hy het ook nie ‘n nuwe personeelhoof aangestel na die bedanking van Andriy Yermak, wat lank voor die begin van die oorlog met Rusland ‘n vertroueling was. Die korrupsiesaak by die Staatsatoomagentskap behels 1,7-miljard-rand in beweerde omkoopgeld vir kontrakte en het openbare verontwaardiging veroorsaak en Kiëf se posisie in VSA-bemiddelde vredesgesprekke ondermyn.
# En sokker: Indiese ondersteuners is opgewonde met die Argentynse legende, Lionel Messi, wat vandag ‘n 21-meter hoë ysterstandbeeld van homself in Kolkata onthul as deel van sy toer deur vier Indiese stede. Die geleentheid sal om veiligheidsredes virtueel plaasvind. Die hoofbeeldhouer, Monty Paul, sê die struktuur is binne 40 dae gebou en beskryf dit as ‘n trotse poging om sy held te vereer. Die agt-en-dertigjarige Messi sal na verwagting premier Narendra Modi, Bollywood-superster Shah Rukh Khan en voormalige Indiese krieketkaptein Saurav Ganguly ontmoet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….