Nuus 15:00
BULLETIN 12 Desember 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorverhoor van Hillary Gardee se vermeende moordenaar begin in die Hooggeregshof
# ACSA se lughawens gaan omvattende opknappings ondergaan
# En rugby: Feinberg-Mngomezulu en Dolf wen die SA Spelers se Speler van die Jaar-toekennings
# Die voorverhoor van die vermeende moordenaar van die dogter van die EFF-politikus Godrich Gardee, Hillary Gardee, het in die Hooggeregshof in Mbombela, Mpumalanga, begin. Die veroordeelde moordenaar Rassie Nkune word daarvan aangekla dat hy Gardee in 2022 ontvoer en vermoor het. Haar liggaam is in ‘n plantasie buite Mbombela gevind. Nkune staan tereg op altesaam 12 aanklagte. Hy dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir die moord op sy lewensmaat en haar suster in KaNyamazane in 2022.
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het ‘n groot kapitaalbestedingsprogram vir sy lughawens aangekondig. Uitvoerende hoof Mpumi Mpofu sê 72-persent van die program ter waarde van 21,7-miljard-rand sal gebruik word vir opknappings, insluitend toilette, veiligheidsmaatreëls en tegnologie. Sy sê 15-persent van die begroting sal die volgende drie jaar gebruik word om passasiersvloei te verbeter en vermoë op besige lughawens soos Kaapstad, George, Dawid Stuurman en King Phalo uit te brei:
# Die mynwerkersvakbond NUM het die regering se hersiene ontbondelingstrategie vir Eskom verwerp en sy teenkanting herhaal teen die privatisering van die energiesektor. Woordvoerder Khangela Baloyi sê die skeiding van Eskom in ‘n opwekkings-, transmissie- en verspreidingseenheid sal werksgeleenthede bedreig, openbare toegang tot bekostigbare energie verminder en die nutsmaatskappy vervang met winsgedrewe privaat spelers. Hy vra die regering om die proses te stop en Eskom as ‘n verenigde, staatsbeheerde instelling te versterk.
# Williston in die Boesmanland-streek van die Noord-Kaap worstel steeds met ‘n erge droogte, terwyl swaar reën oor ander dele van Suid-Afrika geval het. AfriForum en Saai het 12-ton voer aangekoop om die boere te help. Tarien Cook van AfriForum bepleit regeringsingryping en openbare steun, en waarsku plase, gemeenskappe, skole en inkomste kan sonder noodhulp in ‘n ernstige maatskaplik-ekonomiese krisis gedompel word:
# Rugby: Die Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu is aangewys as die mans-vyftienspelers se Speler van die Jaar vir 2025 en Donavan Don spog met die louere in die mans-sewes-kategorie. Die Vrouespelers se Speler van die Jaar is die Springbok Byrhandré Dolf. Die hoofbestuurder van Rugbybedrywighede van MyPlayers, Isma-eel Dollie, het tydens die aankondiging van die toekennings gesê vanjaar se wenners toon uitsonderlike leierskap en invloed en hierdie erkenning beklemtoon die hoë standaarde wat hulle op en van die veld stel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-388-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-334-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 60-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….