Nuus 12:00
BULLETIN 12 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die jongste peiling toon Fikile Mbalula lei tans die ANC se opvolgstryd
# Stappers word gemaan om Tafelberg bo Kampsbaai te vermy
# En krieket: Die Protea-vroue hoop om voort te bou op die T20-reeksoorwinning in die eendagreeks teen Ierland
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het na vore gekom as die topkandidaat vir die party se presidentskap in 2027. Mbalula het in die Stigting vir Maatskaplike Navorsing se peiling van algemene kiesers 19-persent van die stemme gekry, gevolg deur adjunkpresident Paul Mashatile met 18-persent. Mbalula het onder ANC-stemme 29-persent en Mashatile 14-persent. Adjunk-sekretaris-generaal Nomvula Mokonyane en die speaker van die Parlement, Thoko Didiza, word ook genoem as kandidate. Die sakeman Patrice Motsepe se naam is ook genoem, maar hy het gesê hy gaan nie deelneem nie.
# Die EFF vra sy lede om voor te berei vir ‘n oorlog in volgende jaar se plaaslike regeringverkiesing, wat daarop gemik is om beheer oor munisipaliteite terug te eis van korrupte en ondoeltreffende amptenare. Die leier van die EFF, Julius Malema het aan die media gesê die komende verkiesing sal ‘n beslissende stryd wees om dienslewering terug te neem, bestuur te versterk en mislukte koalisie-administrasies in sleutelmetro’s te onttroon:
# Owerhede het ‘n veiligheidswaarskuwing vir Kampsbaai in Kaapstad uitgereik. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê veldwagters en veiligheidsmagte deursoek tans die staproetes bo die gebied teen Tafelberg en hommeltuie is ook ontplooi om te help. Hy het stappers sterk aangeraai om vir hul eie veiligheid die roetes te vermy tot verdere kennisgewing:
Nuus uit die buiteland:
# Rusland se Ministerie van Verdediging sê sy lugverdedigingstelsels het oornag 90 Oekraïense hommeltuie oor die land en die Swart See afgeskiet. Plaaslike owerhede in die stad Tver, 181-kilometer noordwes van Moskou, sê sewe mense is beseer. Moskou se burgemeester, Sergei Sobyanin, sê agt hommeltuie is vernietig onderweg na die Russiese hoofstad. Die Sheremetyevo-lughawe in die stad het vlugte opgeskort te midde van die aanvalle en verskeie ander lughawens is ook oornag vir ‘n rukkie gesluit.
# Krieket: Die Protea-vroue se kaptein, Laura Wolvaardt, sê hulle hoop om voort te bou op die T20-reeksoorwinning oor Ierland wanneer hulle môre die eerste van drie eendagwedstryde speel. Suid-Afrika het oortuigende oorwinnings in die eerste twee T20s behaal voor die laaste een uitgereën het. Môre se kragmeting in Oos-Londen sal die Proteas se eerste in die formaat wees sedert hulle nederlaag teen Indië in verlede maand se Wêreldbeker-eindstryd. Wolvaardt verwag Ierland sal sterk terugveg en besef hulle sal hul beste moet gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-399-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-294-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….