Nuus 14:00
BULLETIN 11 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Umalusi is bekommerd oor die uitlek van matriekeksamenvraestelle, maar tevrede met departementele stappe
# Die Referendum-party vra minister Schreiber om die Wet op Rasseklasifikasie te verduidelik
# En rugby: André Esterhuizen speel Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Haaie
# Die eksamengehalteversekeraar Umalusi is bekommerd oor die uitlek van vraestelle wat tydens die nasien van die matriekeksamen-antwoordstelle geïdentifiseer is. Altesaam 26 leerders van sewe skole in Pretoria word betrek. Hulle het erken het dat hulle vooraf toegang verkry het tot Wiskunde-, Fisiese Wetenskappe- en Engels Huistaal-vraestelle. Twee amptenare van die Departement van Basiese Onderwys is geskors. Umalusi se woordvoerder, Biki Lepota, sê hulle het ‘n voorlopige verslag ontvang:
# Die Referendum-party het die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, gevra vir ‘n verduideliking van sy opmerkings oor die wettigheid van rasseklassifikasie. Schreiber het op X gesê daar bestaan geen wetlike grondslag wat enige persoon verplig om ʼn rasse-klassifiseerder te word nie. Die party se leier, Phil Craig, sê hulle is verheug oor die minister se benadering, maar wonder of ander in die regering van nasionale eenheid ook die wet so verstaan:
# Die Nasionale Seereddingsinstituut het Suid-Afrikaanse roeiers verseker die SafeTrx-diens sal aanhou veilig werk, al is die Britse weergawe gestaak. Die diens volg gebruikers regstreeks, waarsku noodkontakte en stuur hulp as hulle nie betyds terugkeer nie. Andrew Ingram van die instituut spoor roeiers aan om sigbaarheidstoerusting te dra, in groepe te roei, en rugsteun-seintoestelle te gebruik:
# Rugby: Die veelsydige Springbok André Esterhuizen speel Saterdag sy 100ste wedstryd vir die Haaie in die Kampioenebeker-kragmeting met Saracens in Durban. Hy het tussen 2014 en 2020 81 wedstryde vir die span gespeel en verlede jaar teruggekeer na ‘n tydperk by Harlequins in Engeland. Esterhuizen sê hy het Saracens goed leer ken terwyl hy oorsee gespeel het en besef dis ‘n goeie span. Die wedstryd sal die eerste wees onder die voormalige Bok-agterspeler, JP Pietersen, wat aangewys is as tussentydse afrigter na John Plumtree se vertrek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-219-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-8-sent per vat.
# En laastens: Die direkteur van Crue Invest, Eric Jordaan, sê jaarlikse bonusse moet tot voordeel van finansiële vooruitgang beskou word en nie as gratis geld nie. Hy het aan Moneyweb gesê bonusse behoort gebruik te word om skuld te delg, vir bykomende nood-spaargeld en om aftreefondse aan te vul en belastingvoordele te vermeerder. Jordaan beklemtoon belastingvrye beleggings, kinders se opvoeding en huisleningterugbetalings is slim keuses. Hy sê belegging in persoonlike ontwikkeling en die behoud van ‘n klein gedeelte vir genot verseker langtermyn sekerheid sowel as ‘n beloning vir harde werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….