Nuus 13:00
BULLETIN 11 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Nasionale taakspan word aangestel om matriekeksamen-ongerymdhede te ondersoek
# ActionSA lê ‘n klagte teen OPOD oor sy hoogsvertroulike Phala Phala-verslag
# En krieket: Die Protea-mans en Indië pak mekaar in die tweede T20 in New Chandigarh
# Die Direkteur-generaal van Basiese Onderwys gaan ‘n nasionale taakspan aanstel om ondersoek in te stel na matriekeksamen-ongerymdhede in Gauteng. Die ondersoek sal binne die volgende 24-uur begin. Die oortreding betrek 26 leerders van sewe skole in die Pretoria-omgewing. Die vraestelle wat uitgelek het is Engels, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê die taakspan het ‘n omvattende mandaat:
# ActionSA het ‘n formele klagte teen die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ingedien omdat hy weier om die hoogsvertroulike geheime verslag oor die optrede van die Presidensiële Beskermingseenheid bekend te maak. Dit hou verband met die inbraak op president Cyril Ramaphosa se plaas, Phala Phala, in 2023. Woordvoerder Michael Beaumont sê die verslag is die laaste stryd teen magsmisbruik om Ramaphosa te beskerm:
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat bekyk die dood van ‘n 57-jarige vrou in die Rosedale-polisiestasie in Upington in die Noord-Kaap. Woordvoerder Lizzy Suping sê die vrou is verlede week bewusteloos op ’n sypaadjie aangetref en later in ‘n polisiesel aangehou, waar sy dood verklaar is:
Nuwe data van die Australiese Instituut vir Kriminologie toon intussen 33 van die 113 mense wat in die 12 maande tot Junie vanjaar in aanhouding dood is, was inheems, wat nege meer is as die vorige ooreenstemmende tydperk. Dis die hoogste getal sedert boekstawing in 1979-80 begin het. Australiese inboorlinge of Torres Strait Islander-mense is slegs 3,8-persent van die Australiese bevolking, maar maak meer as ‘n derde uit van die land se tronkbevolking. Die hoofoorsaak van hierdie sterftes word beskou as selfdood, gevolg deur natuurlike oorsake.
# Krieket: Suid-Afrika se mans en Indië pak mekaar vandag in die tweede T20 in New Chandigarh. Die gasheer het Dinsdag se eerste kragmeting in Cuttack met 101 lopies gewen toe hulle die Proteas vir 74 uitgeboul het – hulle heel laagste T20-telling. Dit het gevolg nadat Suid-Afrika die toetsreeks 2-0 gewen en Indië die eendagreeks 2-1 beklink het. Die derde T20 word Sondag in Dharamsala gespeel, die vierde Woensdag in Lucknow en die toer sluit volgende Vrydag in Ahmedabad af met die vyfde wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-404-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….