Nuus 12:00
BULLETIN 11 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee werknemers van die Departement van Basiese Onderwys is geskors oor matriekeksamen-vraestelle wat uitlek
# Australië se eerste minister verdedig die verbod op sosialemedia-gebruik vir kinders onder 16
# En rugby: Eben Etzebeth sê die oogkrap-voorval was nie opsetlik nie
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het bevestig dat twee werknemers van die departement geskors is vir hul beweerde betrokkenheid by die uitlek van Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenvraestelle in Gauteng. Dit is by drie vakke – Engels Huistaal, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe – ontdek en betrek 26 leerders in sewe skole in die omgewing van Pretoria. Gwarube sê hulle het die werknemers by die polisie aangekla:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê veiligheid is die sleutel tot die bevordering van toerisme. Veertig van die 202 toerisme-waarnemers wat aan die Grensbestuursowerheid toegeken is, het amptelik op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark begin om sigbaarheid en besoekersondersteuning te versterk. De Lille het gemeenskappe reg oor die land versoek om hul samewerking aan die regering en die privaat sektor te gee om te verseker Suid-Afrika behou sy wêreldwye aantrekkingskrag en bly ‘n bestemming waar besoekers veilig voel.
Intussen is die Tuinroete Nasionale Park in die Wes-Kaap gereed vir die feestyd. Verbeterde personeelvoorsiening, opgeknapte geriewe en beter veiligheidsmaatreëls in die Wildernis-, Tsitsikamma- en Knysna-gedeeltes sal verseker dat besoekers ‘n veilige en onvergeetlike vakansie geniet. SANParke se woordvoerder, JP Louw, herinner besoekers om ‘n geldige ID te dra en water spaarsamig te gebruik terwyl hulle die park se besienswaardighede verken:
Nuus uit die buiteland:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het jongmense vasgevat wat op sosialemedia spog hulle is steeds aanlyn – ‘n dag nadat ‘n verbod op die gebruik daarvan vir onder-16’s in werking getree het. Hy sê dis nie maklik nie, maar sal lewens red. Die land se sosialemedia-platforms word oorstroom met kommentaar van mense wat beweer hulle is onder 16 en is steeds aanlyn. Tien van die grootste platforms, insluitend TikTok, Instagram en YouTube, moet minderjarige gebruikers volgens wet verbied of die moontlikheid van groot boetes verwag.
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth het op sosialemedia kommentaar gelewer oor sy skorsing van 12 weke. ‘n Onafhanklike tugpaneel het hom verlede week skuldig bevind nadat hy verlede maand in Cardiff sy vinger in die Walliese flank, Alex Mann, se oog gedruk het. Etzebeth gebruik drie videogrepe om te bewys die optrede was per ongeluk, maar aanvaar skuld. Hy wil nie hê jong kinders wat na die Bokke opsien, moet dink dis reg om jou vinger in iemand se oog te druk nie, maar sê ongelukke gebeur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-159-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-215-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….