Nuus 08:00
BULLETIN 11 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF sê die Suid-Afrikaanse ekonomie toon veerkragtigheid, maar is steeds onder druk
# Die DA sê die regering se herinstelling van apartheid-era rasseklassifikasie is onwettig
# En krieket: Die Protea-vroue beklink die T20-reeks teen Ierland
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se ekonomie toon veerkragtigheid, maar bly onder druk weens swak groei, toenemende skuld en stadige strukturele hervorming. ‘n Span van die instelling het onlangs die land se ekonomiese trajek geassesseer. Die IMF sê finansiële markaanwysers het verbeter, deels weens die laer inflasieteiken en omdat die land van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder is. Hy waarsku dat Suid-Afrika sonder geloofwaardige fiskale konsolidasie, sterker instellings, en vinnige herstel wat elektrisiteit, logistiek en regeringshervorming betref, voortslepende stagnasie kan verwag.
# Die DA het sy kommer uitgespreek oor gerugte dat die Departement van Werkverskaffing en Arbeid aan werknemers gesê het om die Bevolkingsregistrasiewet van 1950, wat lankal geskrap is, te gebruik om personeel onder ras te klassifiseer. Die wet wat die apartheidregering spesifiek gebruik het, is in 1991 afgeskaf. Michael Bagraim van die DA sê die opdrag van die departement is skokkend en onwettig en die party ondersoek reeds alle wettige maniere om dit onmiddelllik te staak.
# Die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, sê sy administrasie is verplig om moeilike maar nodige stappe te doen om onnodige uitgawes in te perk en ‘n pad na bestendigheid te volg. Die premier het gister ‘n vyfjaarplan vir finansiële herstel bekend gemaak. Ntuli sê hulle het ernstige fiskale druk geërf, onder meer tien-miljard-rand skuld aan diensverskaffers, kontantvloeibeperkings en vlottende skuld van vorige boekjare. Hy het die provinsie se verbintenis tot fiskale dissipline en deursigtigheid herbevestig:
# President Donald Trump sê Amerika se weermag het ʼn olietenkskip aan die kus van Venezuela onderskep en daarop beslag gelê. Dis die jongste optrede van die Trump-administrasie wat die afgelope maande toenemend druk plaas op die Venezolaanse president, Nicolás Maduro. Die vaartuig, Skipper, het Venezolaanse ruolie aan boord gehad. Amerika se prokureur-generaal, Pam Bondi, sê die olietenkskip is reeds jare lank onder sanksies weens sy betrokkenheid by ʼn onwettige tenkskipnetwerk wat buitelandse terroriste-organisasies ondersteun.
# Krieket: Die derde en laaste T20-wedstryd tussen Suid-Afrika en Ierland se vrouespanne is Woensdag in Benoni weens swaar reën afgestel sonder dat een bal geboul is. Die Protea-vroue het die reeks van drie wedstryde gemaklik met 2-0 gewen ná oorwinnings van 105 lopies in die eerste wedstryd in Kaapstad en 65 in die tweede wedstryd in die Paarl. Die spanne konsentreer nou op die eendagreeks van drie wedstryde wat Saterdag op Buffalo Park in Oos-Londen begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-863-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-213-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….