Nuus 07:00
BULLETIN 11 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile dring daarop aan dat die ANC die befondsing vir leierskapsverkiesings reguleer
# AZAPO sê die onderwysstelsel laat township-leerders in die steek
# En rugby: Die Bulle het nege Bokke op toer vir die kragmeting teen die Saints in Engeland
# ANC-adjunkpresident Paul Mashatile sê die party moet daaraan dink om sy lede toe te laat om openlik geld te gebruik in hul veldtogte vir posisies by konferensies. Na die 2017-konferensie het president Cyril Ramaphosa se veldtog onder skoot gekom nadat uitgelekte finansiële state van die CR17-veldtog getoon het hulle het miljoene rand daarvoor ingesamel. Mashatile het by die Nasionale Algemene Raad se vergadering aan die Sunday Times gesê lede moet onder streng maatreëls toegelaat word om openlik fondse in te samel vir leierskapsveldtogte:
# Business Leadership South Africa sê Suid-Afrika toon tekens van ekonomiese herstel, met ‘n 2,1-persent groei van bruto binnelandse produk en verbeterende sakevertroue. In haar weeklikse nuusbrief sê die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, beleggings begin toeneem, veral in vervaardiging, kleinhandel en landbou, terwyl sterk vraag na Eurobond-effekte markoptimisme weerspieël. Mavuso het bygevoeg hierdie momentum moet in 2026 in werklike groei omskep word, met elektrisiteit- en logistieke hervormings wat van kritieke belang is vir volhoubare ekonomiese groei.
# Die Azanian People’s Organisation sê die onderwysstelsel misluk, veral in township-skole. Oorvol klaskamers en ‘n gebrekkige vorderingsbeleid laat leerders onvoorbereid, met baie wat nie aan universiteitsvereistes kan voldoen nie. Die party vra ‘n hersiening van graad 12-slaagvereistes. Nomasango Nama van AZAPO waarsku dat sonder sterk hervormings, baie matrikulante ondergekwalifiseerd en werkloos sal bly:
# Die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het Vusimuzi “Cat” Matlala se maatskappy, Medicare24 Tshwane-distrik, beveel om sy luukse kantore in Pretoria weens onbetaalde huur te ontruim. Die maatskappy het in 2024 ‘n polisie-tender van 360-miljoen-rand ontvang. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die kontrak in Mei vanjaar gekanselleer na ʼn interne oudit swak prestasie, tenderprobleme en ernstige verkrygingsonregmatighede onthul het. Die hof het Menlyn Maine Towers toestemming gegee om beslag te lê op Medicare24 se roerbare bates en betaling van 258-duisend-890-rand plus rente aan agterstallige huur.
# Die Verenigde Nasies se hoof van menseregte, Volker Türk, het die Israelse weermag se voorstel verwerp dat die sogenaamde “geel lyn” sementblokke wat hy in Gaza opgerig het, ʼn nuwe grens moet vorm. Die geel lyn verdeel Gaza tans in die helfte, en was bedoel as die eerste van drie afbakeningsgrense waarheen Israel sou onttrek soos die skietstilstand deur die drie fases vorder. Türk sê Gaza moet in sy geheel as ʼn gebied gerespekteer word:
Rugby: Nege Springbokke is ingesluit in die Bulle se toergroep vir die Kampioenebeker-wedstryd teen Northampton Saints in Engeland. Losskakel Handré Pollard kry ‘n ruskans ingevolge die Bokke se verpligte rustye, maar die Pretoria-span kan staatmaak op ander Bokke soos Gerhard Steenekamp, Johan Grobbelaar, Cobus Wiese, Akker van der Merwe, Elrigh Louw en Willie le Roux. Die Bulle hoop om te herstel van verlede naweek se nederlaag teen die verdedigende kampioen Bordeaux-Begles op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-994-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-237-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….