Nuus 18:00
BULLETIN 10 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie bevestig die DA se brief oor aanwysing van die nuwe hoof van Openbare Vervolgings
# Suid-Afrika werf steun vir die verlenging van AGOA-deelname
# En, die VSA mag moontlik buitelandse toeriste vra vir vyf jaar sosialemedia-geskiedenis voor toegang tot die land
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die DA se dreigement om onderhoude vir die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings te verhoed is sonder enige meriete. Die party het die onderhoudspaneel gevra om nie die voormalige direkteur van Openbare Vervolging, Menzi Simelane, te oorweeg nie. Kubayi het bevestig die paneel se regspan is opdrag gegee om te reageer:
# Suid-Afrika werf aktief steun om deel te bly van die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede vir Afrika, terwyl besprekings oor ‘n moontlike verlenging van een jaar voortduur. News24 berig die woordvoerder van die Ministerie van Handel, Nywerheid en Mededinging, Kaamil Alli, sê die regering soek insluiting by die inisiatief in sy huidige vorm. Die VSA het daarop gewys Suid-Afrika kan anders behandel word tensy hy tariewe en nie-tariefhindernisse op Amerikaanse goedere verminder.
# Die Padongelukkefonds dring daarop aan dat Suid-Afrikaners persoonlike verantwoordelikheid neem om padongelukke en sterftes in die feestyd te verminder. Verlede seisoen se vier algemeenste motorongelukke was voetgangervoorvalle, tref-en-trap-botsings, enkelvoertuigongelukke en trompop-botsings. Khathutshelo Magadani van die fonds sê hulle het sedert verlede jaar 65-duisend-732 nuwe eise geregistreer. Hy sê vakansiegangers moet veilig, waaksaam en verantwoordelik wees:
# Toeriste uit tientalle lande mag kragtens ‘n nuwe voorstel deur Amerika gevra word om ‘n vyfjaar lange sosialemedia-geskiedenis te verskaf as ‘n voorwaarde vir toegang tot die Verenigde State. Dit sal van toepassing wees op mense wat in aanmerking kom om die VSA vir 90 dae sonder ‘n visum te besoek. Aansoekers sal ook telefoonnommers en e-posadresse vir die afgelope 10 jaar en inligting oor familielede moet verskaf. Ontleders sê die plan kan ‘n hindernis vir besoekers wees en ook hul digitale regte skaad.
# Motorsport: Red Bull se Formule Een-motorsportraadgewer, Helmut Marko, verlaat die maatskappy aan die einde van die jaar. Die 82-jarige Oostenryker is sedert 2005 in die pos. Hy het toesig gehou oor die vordering van 20 jaers na F1, insluitend Max Verstappen en Sebastian Vettel, wat saam agt wêreldtitels vir die span gewen het. Red Bull se uitvoerende hoof, Oliver Mintzlaff, sê Marko was ‘n invloedryke figuur vir die span, en sy vertrek sal ‘n groot leemte laat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-951-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….