Nuus 16:00
BULLETIN 10 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA veroordeel die Arbeidsdepartement vir die gebruik van rasseklassifikasie uit die apartheidsera
# Rugby: All Blacks speel teen Frankryk in die eerste wedstryd op ‘n nuwe stadion in Christchurch
# En Suid-Afrika vier 29 jaar sedert die aanneming van sy Grondwet
# Die DA het regstappe beloof nadat die Departement Werkskepping en Arbeid werkgewers beveel het om die herroepte Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 te gebruik om personeel volgens ras te klassifiseer. Die party bestempel dit as onwettig en ‘n poging om sake-ondernemings te dwing om regeringskwotas af te dwing. Woordvoerder Michael Bagraim waarsku die terugkeer na apartheids-logika bedreig werksgeleenthede en beleggings:
# Die kabinet verwelkom groei van 0,5-persent in die bruto-binnelandse produk in die derde kwartaal – die vierde agtereenvolgende kwartaalllikse groei. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê indiensneming het met 248-duisend gestyg, werkloosheid het met 360-duisend gedaal, en die Jeugwerkverskaffingsdiens het 200-duisend plasings bereik. Sy verwelkom die Internasionale Monetêre Fonds se groeivoorspelling tot 1,3-persent vanjaar en 1,4-persent in 2026:
# Die VF Plus waarsku Suid-Afrikaanse veeboere worstel hierdie feestyd met finansiële verliese weens bek-en-klouseer. Woordvoerder Wynand Boshoff kritiseer die Departement van Landbou oor stadige wetstoepassing, vertraagde toetsuitslae en onvoldoende inentingsbestuur. Hy bepleit die dringende instelling van bestaande regulasies, insluitend vinnige toetsing, toegang tot inentings, opspoorbaarheid van beeste en wetstoepassing op provinsiale grense:
# Rugby: Die All Blacks gaan in Julie volgende jaar hul nuwe permanente stadion in Christchurch inwy met ‘n toets teen Frankryk. Die Te Kaha-stadion vervang Lancasterpark, wat gesloop moes word ná ‘n dodelike aardbewing in 2011. Nieu-Seeland kon sedertdien slegs vyf toetse in die stad speel, op ‘n tydelike veld wat nie geskik is vir groter wedstryde nie. Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, sê die wedstryd teen Frankryk aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap sal ‘n geskiedkundige geleentheid vir Christchurch wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-57-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-197-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika vier die 29ste herdenking van die aanneming en ondertekening van sy Grondwet. Die Konstitusionele Vergadering het die Grondwet op 8 Mei 1996 aangeneem en die Konstitusionele Hof het dit in Oktober daardie jaar bekragtig. Oudpresident Nelson Mandela het die dokument op 10 Desember 1996 onderteken tydens ‘n seremonie in Sharpeville om hulde te bring aan die slagoffers van apartheid. Die Grondwet het amptelik op 4 Februarie 1997 in werking getree en ‘n regering gevestig wat gegrond is op regte vir alle Suid-Afrikaners.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….