Nuus 14:00
BULLETIN 10 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# MultiChoice is gedenoteer vandie Johannesburgse Aandelebeurs en A2X ná Canal-plus se oorname
# Munisipale hervorming gaan na die verkiesing versnel word
# En sokker: Die uitspraak oor Cardiff en Nantes se geskil oor vergoeding ná Emiliano Sala se dood word in Maart verwag
# MultiChoice is vandag amptelik gedenoteer van die Johannesburgse Aandelebeurs en A2X ná ‘n verpligte verkryging deur die Franse mediareus, Canal-plus, wat alle oorblywende aandele na afloop van ‘n twee-jaar-lange oornamebod bekom het. Canal-plus het Vrydag die betaling afgehandel in ooreenstemming met die Wet op Maatskappye. Die beurs, A2X en die Reserwebank het regulatoriese goedkeuring toegestaan. Canal-plus beplan binne nege maande ‘n sekondêre inwaartse notering op die beurs ondanks die denotering.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering sal onmiddellike munisipale hervormings instel sodra die huidige termyn eindig, en nie tot 2031 wag nie. Hy het gepraat tydens die oorhandiging van wyksafbakenings aan die Verkiesingskommissie in Pretoria. Hlabisa sê dringende veranderinge is nodig om verswakkende munisipale prestasie teen te werk en plaaslike regering te professionaliseer:
# Die Referendum-party sê Suid-Afrika het die mees rasgereguleerde land ter wêreld geword. Die Departement van Indiensneming en Arbeid het werkgewers glo gedwing om werknemers te klassifiseer ingevolge die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950, wat in 1991 afgeskaf is. Woordvoerder Robert King sê werkgewers behoort nie verplig te word om personeel volgens ras te klassifiseer nie, en die opdrag is ongrondwetlik:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê die landwye uitbreking van bek-en-klouseer, en veral in dele van die Vrystaat, plaas toenemende druk op boere. Woordvoerder Bertus van der Westhuizen sê plase binne die kwarantynsones van tien-kilometer in omtrek is tot stilstand gedwing omdat geen vee verskuif mag word totdat die gebied siektevry verklaar is nie. Hy sê TLU het die Departement van Landbou gevra om ‘n werkbare tydelike oplossing te oorweeg.
# Sokker: ‘n Handelshof in Nantes, Frankryk, sal op 30 Maart uitspraak lewer in die geskil tussen Cardiff City en die Franse klub Nantes oor Emiliano Sala se dood in 2019. Die Argentynse doelskieter is dood toe die ligte vliegtuig waarmee hy na Cardiff onderweg was, in die Engelse Kanaal neergestort het – twee dae ná die finalisering van sy oordrag. Cardiff beweer dat Nantes, via die agent Willie McKay, die vlug gereël het en eis meer as 2,3-miljard rand se skadevergoeding. Nantes ontken aanspreeklikheid en betwis die eis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-950-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-194-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….