Nuus 13:00
BULLETIN 10 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party veroordeel die regering se gebruik van die herroepe Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950
# ‘n Regter keur die vrystelling goed van rekords in Ghislaine Maxwell se sekshandelsaak
# En krieket: Australië se kaptein behoort terug te keer vir die derde toets om die As
# Die Referendum-party sê Suid-Afrika het die mees rasgereguleerde land ter wêreld geword. Die Departement van Indiensneming en Arbeid het werkgewers glo gedwing om werknemers te klassifiseer ingevolge die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950, wat in 1991 afgeskaf is. Woordvoerder Robert King sê werkgewers behoort nie verplig te word om personeel volgens ras te klassifiseer nie, en die opdrag is ongrondwetlik:
# Eskom verwelkom die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, se goedkeuring van die hersiene ontbondelingstrategie vir die kragverskaffer. Dit behels dat transmissiebates by die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika bly, wat as ‘n filiaal van Eskom Holdings bedryf word. Die regering sal ook die regsproses begin om ‘n ten volle onafhanklike transmissie-stelseloperateur te vestig, wat toesig sal hou oor stelselbedryf, markbedryf en sentrale verkryging. Eskom sê die strategie sal doeltreffender dienslewering, groter mededinging en verbeterde beleids- en beleggersekerheid moontlik maak.
# Die Kaapse Wynland-lughawe in Kaapstad het WBHO aangestel as hoofkontrakteur vir sy uitbreiding van agt-miljard-rand, wat ‘n belangrike stap is in die skepping van Suid-Afrika se volgende geslag-lugvaartsentrum. Dit behels ‘n nuwe boetiekterminaal, verbeterde aanloopbane en vragbedrywighede en ‘n gemoderniseerde lugvaartgebied. Woordvoerder Deon Cloete sê die ontwikkeling kan meer as 100-duisend-werksgeleenthede oor 20 jaar onderhou en toerisme en belegging ‘n hupstoot gee:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Amerikaanse federale regter het die Departement van Justisie se versoek toegestaan om rekords van die ondersoek en strafregtelike vervolging van Ghislaine Maxwell bekend te stel. Sy dien tronkstraf van 20 jaar uit nadat sy in 2021 skuldig bevind is vir haar rol in die lok van minderjarige meisies vir die oorlede pedofiel Jeffrey Epstein. Die rekords bevat transkripsies van die jurie, finansiële rekords, reisdokumente en notas van slagofferonderhoude. Regter Paul Engelmayer sê die rekords sal geredigeer word om slagoffers se identiteite en ander identifiseerbare inligting te beskerm.
# Krieket: Pat Cummins sal Australië na verwagting in die derde toets om die As teen Engeland aanvoer nadat hy die eerste twee weens ‘n besering misgeloop het. Steve Smith het die gashere gelei toe hulle die eerste twee toetse gewen het. Die 32-jarige Cummins was ‘n toeskouer sedert hy in Julie ‘n laer-rugbesering opgedoen het teen die Wes-Indiese Eilande. Die veteraan-draaibouler Nathan Lyon sal na verwagting ook in die derde toets speel wat volgende Woensdag in Adelaide begin nadat hy uitgelaai is vir die tweede een in Brisbane.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-549-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….