Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Vandag se laaste T20 tussen die Proteas en Ierland se vroue in Benoni, Gauteng, sal geen invloed hê op die uitkoms van die reeks nie. Suid-Afrika het reeds die reeks beklink deur die eerste twee kragmetings te wen. Hulle het die eerste wedstryd in Kaapstad met 105 lopies gewen nadat kaptein Laura Wolvaardt ‘n onoorwonne 115 aangeteken het, en die tweede een in die Paarl met 65 lopies. Die spanne pak mekaar hierna in drie eendagwedstryde – Saterdag in Oos-Londen, Dinsdag in Gqeberha en volgende Vrydag in Johannesburg.
Indië het Suid-Afrika se mans intussen met 101 lopies verslaan in die eerste T20 in Cuttack. Hardik Pandya het ‘n onoorwonne 59 aangeteken en die gashere het 175 vir ses behaal. Lungi Ngidi het drie paaltjies platgetrek. Jasprit Bumrah het daarna twee paaltjies geneem en die tweede Indiese bouler geword wat 100 paaltjies laat kantel. Die Proteas is uitgeboul vir 74, hul laagste T20-totaal ooit. Die tweede van die vyf wedstryde vind môre in Chandigarh plaas.
# Rugby: SA Rugby het die ouderdom vasgestel waarop jong spelers mekaar mag duik. Kinders in onder-vyf- tot onder-agt-spanne neem uitsluitlik deel aan nie-kontakspel soos raakrugby. Volle kontak en duikrugby sal eers in die onder-nege-ouderdomsgroep begin ná ’n volledige program wat grondvaardighede soos val, rol, stoei en kontak ontwikkel. Suid-Afrika is tans die enigste groot rugbynasie sonder ‘n duidelik-gedefinieerde ouderdom waarop kinders mag begin duik.
Nog rugbynuus: Die All Blacks gaan in Julie volgende jaar hul nuwe permanente stadion in Christchurch inwy met ‘n toets teen Frankryk. Die Te Kaha-stadion vervang Lancasterpark, wat gesloop moes word ná ‘n dodelike aardbewing in 2011. Nieu-Seeland kon sedertdien slegs vyf toetse in die stad speel, op ‘n tydelike veld wat nie geskik is vir groter wedstryde nie. Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, sê die wedstryd teen Frankryk aan die begin van die nuwe Nasies-kampioenskap sal ‘n geskiedkundige geleentheid vir Christchurch wees.
# En laastens, tennis: Die Australiese Ope het sy inskrywingslys vir volgende jaar bekendgemaak. Nege-en-neëntig van die wêreld se top-honderd mans en 98 van die top-honderd vroue sal in Melbourne speel. Onder die mans is die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die tweemalige kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, lei die vroue-afdeling, asook die verdedigende kampioen, Madison Keys van Amerika, en die Pool Iga Swiatek. Agt promotorskeuses en 16 kwalifiseerders voltooi die 128 deelnemers in albei enkelspel-afdelings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….