Nuus 12:00
BULLETIN 10 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku misdaad versmoor Suid-Afrika se ekonomie
# Die MK-party verloor ‘n aansoek wat Mchunu se skorsing en die stigting van die Madlanga-kommissie uitdaag
# En tennis: Alcaraz en Sabalenka is boaan die Australiese Ope se 2026-inskrywingslys
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku misdaad kos Suid-Afrika elke jaar tot 15-persent van sy bruto binnelandse produk . Die instituut sê korttermyn-wetstoepassingsoperasies is nie genoeg nie, en slegs strukturele hervorming binne die Polisiediens kan openbare vertroue herstel en georganiseerde misdaad aanpak. Woordvoerder Ricardo Teixeira sê swak leierskap en politieke inmenging laat misdaadnetwerke floreer, terwyl sakeondernemings onvoorspelbare risiko’s beleef:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die MK-party se aansoek van die hand gewys teen president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Die hof het ook die aansoek verwerp teen Firoz Cachalia se aanstelling as waarnemende minister en die stigting van die Madlanga-kommissie. Regter Anthony Millar het beslis die skorsing van ‘n minister te midde van ernstige maar onbevestigde bewerings, en die vestiging van ‘n onafhanklike ondersoek om die feite te bepaal, is rasioneel en wettig.
# Die Kaapse Wynland-lughawe het WBHO aangestel as hoofkontrakteur vir sy uitbreiding van agt-miljard-rand, wat ‘n belangrike stap is in die skepping van Suid-Afrika se volgende geslag-lugvaartsentrum. Dit behels ‘n nuwe boetiekterminaal, verbeterde aanloopbane en vragbedrywighede en ‘n gemoderniseerde lugvaartgebied. Woordvoerder Deon Cloete sê die ontwikkeling kan meer as 100-duisend-werksgeleenthede oor 20 jaar onderhou en toerisme en belegging ‘n hupstoot gee:
# Tennis: Die Australiese Ope het sy inskrywingslys vir volgende jaar bekendgemaak. Nege-en-neëntig van die wêreld se top-honderd mans en 98 van die top-honderd vroue sal in Melbourne speel. Onder die mans is die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje, die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die tweemalige kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, lei die vroue-afdeling, asook die verdedigende kampioen, Madison Keys van Amerika, en die Pool Iga Swiatek. Agt promotorskeuses en 16 kwalifiseerders voltooi die 128 deelnemers in albei enkelspel-afdelings.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-704-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: Die prins van Wallis het hulde gebring aan die baanbreker-olifantbewaringskenner Iain Douglas-Hamilton, wat op 83 in Nairobi oorlede is. Douglas-Hamilton het sy lewe lank Afrika-olifante bestudeer en veldtogte gevoer om hulle te beskerm, en het ‘n vooraanstaande kenner van hul gedrag in die natuur geword. Sy baanbrekersnavorsing het die verwoestende gevolge van stropery blootgelê en regstreeks gelei tot die verbod op internasionale ivoorhandel. Prins William het Douglas-Hamilton geprys as ‘n man wie se lewenswerk ‘n blywende uitwerking op die waardering en begrip van olifante laat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….