Nuus 11:00
BULLETIN 10 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party verloor ‘n aansoek wat Mchunu se skorsing en die stigting van die Madlanga-kommissie uitdaag
# ActionSA sê die kortlysproses vir die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings is bederf met die insluiting van Simelane
# En krieket: Die Proteas en Ierland se vrouespanne speel in die laaste T20 in Benoni
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die MK-party se aansoek van die hand gewys teen president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Die hof het ook die aansoek verwerp teen Firoz Cachalia se aanstelling as waarnemende minister en die stigting van die Madlanga-kommissie. Regter Anthony Millar het beslis die skorsing van ‘n minister te midde van ernstige maar onbevestigde bewerings, en die vestiging van ‘n onafhanklike ondersoek om die feite te bepaal, is rasioneel en wettig.
# ActionSA maak beswaar teen Menzi Simelane se insluiting op die kortlys vir Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging en sê hy is beslis nie ‘n geskikte kandidaat nie. Simelane is een van ses kandidate om by Shamila Batohi oor te neem. Matthew George van ActionSA sê weens ongunstige bevindinge teen Simelane deur die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Ginwala-ondersoek, kan die party hom nie daarmee versoen dat hy op die kortlys is nie:
# Die ANC in KwaZulu-Natal sê hy is vol vertroue dat die MK-party se mosie van wantroue in premier Thamsanqa Ntuli nie volgende week sal slaag nie. Die MK-party beskuldig Ntuli onder meer daarvan dat hy ‘n onderpresterende regering van provinsiale eenheid lei, wat volgens MK korrup is. Die tweede adjunk-sameroeper van die ANC se provinsiale taakspan, Siboniso Duma, glo die mosie is polities gemotiveerd. Hy sê die MK-party dra nie die beste belange van inwoners op die hart nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse minister van Buitelandse Sake, Yvette Cooper, beskuldig organisasies met Russiese bande dat hulle manipulasietegnieke gebruik om wêreldgebeure te beïnvloed. Dit sluit vals ondersoeke en inhoud uit kunsmatige intelligensie in. Brittanje het sanksies ingestel teen onder meer die sentrum vir geopolitieke kundigheid, wat deur die verregse Russiese skrywer, Aleksandr Dugin, bedryf word. Cooper sê Moskou is ʼn wêreldwye bedreiging:
# Krieket: Vandag se laaste T20 tussen die Proteas en Ierland se vroue in Benoni, Gauteng, sal geen invloed hê op die uitkoms van die reeks nie nadat Suid-Afrika reeds die eerste twee kragmetings gewen het. Hulle het die eerste wedstryd in Kaapstad met 105 lopies gewen nadat kaptein Laura Wolvaardt ‘n onoorwonne 115 aangeteken het, en die tweede een in die Paarl met 65 lopies. Die spanne pak mekaar hierna in drie eendagwedstryde – Saterdag in Oos-Londen, Dinsdag in Gqeberha en volgende Vrydag in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-589-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 61-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….