Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Desember 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het Banxso ‘n boete van twee-miljard-rand opgelê vir die misbruik van sy kliëntefonds. Die koerant skryf die reguleerder het ook Banxso se lisensie teruggetrek.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n bekende atleet van KwaZulu-Natal, die 41-jarige Ronald Smith is in die hospitaal oorlede nadat hy vroeër ernstig beseer is tydens ‘n val.
Dan skryf die webblad oor die Proteas se nederlaag in hul eerste T20 teen Indië.
En laastens word berig die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe sê hy gaan in 2027 uit die politiek tree.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf duisende Gautengse kankerpasiënte wag steeds op behandeling en daar is nou ‘n beroep gedoen op die nasionale regering om in te gryp.
En tweedens word berig sewe jong mans is tydens die somerseisoen dood by inisiasieskole in die Oos-Kaap. Die owerhede en tradisionele leiers is opnuut versoek om in te gryp.
# Sowetan:
Berig dit het aan die lig gekom dat die gebied in die Alexandra-township waar die bakkie van die sluipmoordenaars van Marius van der Merwe opgespoor is, berug is as stortingsplek van voertuie wat in misdade gebruik is en liggame.
# En The Citizen:
Skryf die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula sê die party is besig om in stede te sterf omdat die mense vertroue in die party verloor het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die ANC se posisie lyk benard veral in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Volgens Mbalula se verslag het die ANC in 2022 nagenoeg een-miljoen lede gehad. Dit het teruggesak tot net meer as 500-duisend.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n Kaapse kobra wat homself in ‘n staanoorlosie in Oudtshoorn tuisgemaak het.
OOS-KAAP:
# The Herhald in Gqeberha:
Berig die direkteur in die kantoor van die speaker van Nelson Mandelabaai word gekritiseer vir sy oormatige besteding op Menseregtedag. Dumisani Mbebe sê hy was onder politieke druk om ‘n borg te vind.
En tweedens skryf die koerant, Robin Clarke wat skuldig bevind is aan die moord op sy stiefdogter het ‘n “Best Dad Ever”-t-hemp in die hof gedra.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die 55-jarige tradisionele leier, Inkosi Zuma gaan Kersfees agter tralies deurbring. Hy staan tereg op drie afsonderlike sake, elk met betrekking tot aanklagte van moord of sameswering om moord te pleeg.
En tweedens berig die koerant oor ‘n kleuter wat na bewering dood is as gevolg van die gebrek aan drinkwater.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Nama-hoofman, Hendrik Witbooi is in Namibië se Galery van Leiers opgeneem. Hy word beskryf as ‘n visioenêre staatsman en militêre strateeg wat ook ‘n geestelike leier vir sy mense was.