Nuus 06:00
BULLETIN 10 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC probeer personeelvertroue herstel
# Minister Ramokgopa keur ‘n hersiene Eskom-ontbondelingstrategie goed
# En Israel is verantwoordelik vir byna die helfte van die joernaliste wat in 2025 vermoor is
# Die ANC sê besprekings tussen die partybestuur en die NEHAWU duur voort, na aanleiding van personeelverset oor laat salarisse en onbetaalde voordele. Betalings is wel aan personeel gemaak, maar die gesprekke is daarop gemik om die oorblywende kwessies op te los en die behoorlike hantering van salarisse en bydraes te verseker. ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê die party is daartoe verbind om griewe aan te spreek en vertroue onder sy werknemers te herstel:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die belyning tussen die Parlement se ad hoc-komitee en die Madlanga-kommissie is ‘n doelbewuste poging om toesig te versterk en openbare vertroue in die strafregstelsel te herstel. Hlabisa het in sy toespraak tydens die eerste Babita Deokaran-lesing by die Universiteit Stellenbosch gesê die gekoördineerde benadering versterk aanspreeklikheid in hoëprofielsake en toon die regering se vasberadenheid om oortredings aan te pak en mense te beskerm wat misdaadnetwerke uitdaag:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het ‘n hersiene ontbondelingstrategie vir Eskom goedgekeur in ooreenstemming met die Wysigingswet op Elektrisiteitsregulering. Ingevolge die goedgekeurde strategie sal transmissiebates by die Suid-Afrikaanse Nasionale Transmissiemaatskappy bly, wat as ‘n filiaal van Eskom Holdings bedryf word. Die regering sal ook die regsproses begin om ‘n ten volle onafhanklike transmissiestelseloperateur te vestig, wat toesig sal hou oor stelselbedryf, markbedryf en sentrale aankope. Ramokgopa sê die hersiene benadering ondersteun markhervorming terwyl dit poog om Eskom se finansiële bestendigheid tydens die oorgang te bewaar.
# Die Nasionale Unie van Metaalwerkers het sy eis herhaal dat ArcelorMittal Suid-Afrika genasionaliseer en onder staatsbeheer geplaas word. In Oktober het die Arbeidshof AMSA gelas om alle werkers wat onregverdig ontslaan is by die staalvervaardiger se aanlegte in Newcastle en Vereeniging, weer in diens te neem. Die maatskappy het aansoek gedoen om verlof om te appelleer. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die Nywerheidsontwikkelingskorporasie moet help om ‘n finansiële reddingsboei vir werkers by die twee aanlegte te verseker:
# Verslaggewers sonder Grense sê Israelse magte het vanjaar 29 Palestynse joernaliste in Gaza doodgemaak, wat neerkom op 43-persent van die 67 mediawerkers wat vanjaar dood is. Die dodelikste voorval was ‘n aanval op die Nasser-hospitaal in Augustus waarin vyf joernaliste dood is, insluitend twee van Reuters en AP News. Die organisasie bestempel Israel as die wêreld se voorste moordenaar van joernaliste vir die derde agtereenvolgende jaar. Voorstanders van media-vryheid vra strenger beskermingsmaatreëls in konflikgebiede.
# Rugby: SA Rugby het die ouderdom vasgestel waarop jong spelers mekaar mag duik. Kinders onder-vyf tot onder-agt neem uitsluitlik deel aan nie-kontakspel soos raak- en tagrugby. Volle kontak en duikrugby sal eers in die onder-nege-ouderdomsgroep begin ná ’n volledige program wat grondvaardighede soos val, rol, stoei en kontak ontwikkel. Suid-Afrika is tans die enigste groot rugbynasie sonder ‘n duidelik gedefinieerde ouderdom waarop kinders mag begin duik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-973-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-210-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….