Nuus 18:00
BULLETIN 9 Desember 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gwede Mantashe sê hernuwing is ‘n geleidelike proses
# ‘n Onderwysaktivis prys die regering oor die bevordering van vroeë kinderontwikkeling
# En, die Stad Tshwane verskerp sy greep op onwettige immigrasie
# Die ANC se voorsitter, Gwede Mantashe, sê party-hernuwing is nie ‘n gebeurtenis nie, maar ‘n geleidelike proses. Mantashe het tydens die Vyfde Nasionale Algemene Raad in Boksburg, oos van Johannesburg, opgemerk vordering word dikwels oor die hoof gesien in die media, soos die herlewing van onaktiewe liga’s. Mantashe het beklemtoon hernuwing behels ‘n fokus op bestendige, langtermyn transformasie in die party:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, geprys oor die bevordering van die Vroeë Kinderversorging en Onderwysuitkomstefonds ter waarde van 496-miljoen-rand. Die fonds is geskep om vroeë leerwerk vir die jonger kinders in die volgende drie jaar te transformeer. Makaneta sê die fonds is ‘n daadwerklike stap wat nodig is om vroeë kinderontwikkeling op groot skaal te verbeter:
# Die Stad Tshwane verwelkom buitelandse burgers wat in die stad wil woon, werk en positief tot die samelewing bydra, maar dit moet binne die wetlike raamwerk plaasvind. Optrede deur die Metro-polisiedepartement in Centurion en Wonderboom het onlangs gelei tot die arrestasie van 46 ongedokumenteerde buitelandse burgers. Die Burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Hannes Coetzee, sê die inhegtenisnemings dui op die metro se groeiende vasberadenheid om gemeenskappe te beskerm teen die gevolge van onbeheerde en onwettige migrasie:
# Japannese owerhede het tsunami-waarskuwings vroeër vandag opgehef, ure nadat ‘n kragtige aardbewing van ‘n sterkte van 7,5 die noordoostelike streke geskud het. Die aardbewing het minstens 30 mense beseer en sowat 90-duisend inwoners gedwing om hul huise te ontruim. Die aardbewing het gisteraand langs die kus plaasgevind, met Japan se Meteorologiese Agentskap wat gewaarsku het oor ‘n tsunami met drie-meter golwe langs die noordoostelike kus. Die episentrum van die aardbewing was 80 kilometer van die kus langs die Aomori-provinsie, op ‘n diepte van 54 kilometer.
# Krieket: Altesaam 350 spelers is op die kortlys vir Dinsdag se mini-spelersveiling vir die volgende Indiese Premierliga-seisoen. Onder hulle is 240 plaaslike spelers en 110 buitelandse spelers. Die Protea-kolwer en paaltjiewagter, Quinton de Kock, en 34 ander spelers is ingesluit op versoek van franchises nadat hulle nie op die langlys was nie. Die spelers ding mee om slegs 77 beskikbare plekke wat gevul moet word, waarvan 31 na oorsese spelers moet gaan. Die veiling vind plaas in Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-414-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-193-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….