Nuus 14:00
BULLETIN 9 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bespreek ‘n voorstel om blokstemkopery te verhoed
# Paramount pak Netflix in ‘n stryd om beheer oor Warner Brothers
# En gholf: Die Britse Ope van 2028 word verskuif om die Olimpiese Spele te huisves
# Die ANC bespreek ‘n radikale voorstel om die koop van stemme te beperk op die tweede dag van sy Nasionale Algemene Raadsvergadering in Boksburg, Gauteng. Die plan, gesteun deur die party se Veteraneliga, is vir die instelling van ‘n stelsel van een-lid, een-stem, wat die huidige afgevaardigde-gebaseerde verkiesing sal skrap wat na bewering manipulering en stemkopery vergemaklik. Hervormers voer aan dit sal demokrasie binne die party herstel en vertroue in leiersverkiesings versterk. Dit is deel van groter pogings om die party se integriteit en openbare aansien te vernuwe.
# Die GOOD-party het woede uitgespreek oor die ongekende geweld wat die lewens van talle kinders in Kaapstad geëis het terwyl ander beseer is. Minstens ses kinders tussen vier en 16 jaar was binne slegs een week slagoffers van geweld wat moord en skietvoorvalle insluit. GOOD se woordvoerder, Jonathan Cupido, sê die vlaag terreur is ‘n siek teenstrydigheid terwyl die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders herdenk word:
# Die vakbondfederasie Saftu sê die regering moet meer doen om die toenemende krisis te verhoed van blootstelling aan plaagdoders, voedselbesmetting en die verwoestende gesondheidsgevolge vir plaaswerkers en landelike gemeenskappe. ‘n Onlangse studie het bevind dat 67 plaagdoders wat reeds in Europa verbied is, steeds na Suid-Afrika uitgevoer en hier gebruik word. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê gevaarlike plaagdoders veroorsaak buitengewoon erge skade aan mense se gesondheid en die omgewing:
Nuus uit die buiteland:
# Amerika se grootste media- en vermaaklikheidsgroep, Paramount, het ‘n vyandige aanbod van 1,8-duisend-miljard-rand aan Warner Brothers gemaak. Dit is ‘n regstreekse uitdaging van Netflix se oorname-ooreenkoms vir die rolprentateljee- en stroomreus van verlede week. Paramount sê sy regstreekse kontantaanbod aan aandeelhouers van Warner Brothers Discovery sal meer winsgewend wees as Netflix se ooreenkoms. Paramount se aanbod sluit Warner Brothers Discovery se kabeltelevisie-bates in, terwyl Netflix s’n beperk is tot Warner Brothers se rolprent- en televisie-ateljees, HBO en die HBO Max-stroomdiens.
# Gholf: Die 156ste Britse Ope van 2028 word in Augustus gespeel sodat dit nie bots met die gholfkompetisie van die Olimpiese Spele in Los Angeles nie. Die wêreld se beste spelers sou moes kies tussen die Spele en die jaar se laaste Major. Die Ope sal van 2029 af weer in middel-Julie plaasvind. Woordvoerder Mark Darbon sê hulle het saam met die betrokke liggame en vennote gewerk om op ander datums vir die Ope te besluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-177-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….