Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Desember 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, glo die reeks teen Indië is die perfekte geleentheid vir spelers om hulself te bewys, veral voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. David Miller is ingesluit in die groep van 16 terwyl die snelbouler Anrich Nortjé ook na meer as ‘n jaar terugkeer. Die reeks van vyf wedstryde begin vanmiddag in Cuttack. Die veiling vir die Indiese Premierliga vind volgende Dinsdag in Abu Dhabi plaas en Markram erken spelers wil dalk beïndruk:
Intussen kan Shubman Gill en Hardik Pandya oorweeg word vir vandag se eerste T20 teen Suid-Afrika. Gill is in die eerste toets teen Suid-Afrika beseer en het die tweede, asook die drie eendagwedstryde, misgeloop. Pandya het laas in September vir Indië in die Asië-beker gespeel toe hy ‘n besering opgedoen het. Die Proteas het die toetsreeks 2-0 gewen, terwyl die gashere die eendagreeks 2-1 gewen het. Die tweede T20 word Donderdag in New Chandigarh gespeel, gevolg deur kragmetings in Dharamsala, Lucknow en Ahmedabad.
# Hokkie: Die wedstryd tussen Suid-Afrika en Indië op Hartleyvale in Kaapstad het met twee-elk gelykop geëindig om die hoop op ‘n reeksoorwinning lewend te hou. Dis gashere het die eerste toets 5-2 verloor. Harmanpreet Singh het die besoekers se eerste doel aangeteken en Dayaan Cassiem het die telling in die derde kwart gelykop gemaak. Hans Neethling het Suid-Afrika ʼn voorsprong van 2-1 gegee, maar Singh se strafdoel in die laaste kwart het die telling weer gelykop gemaak. Met hierdie gelykoptelling bring Suid-Afrika ʼn einde aan 13 jaar se nederlae teen die Asiatiese kampioene.
# Sokker: Liverpool se afrigter, Arne Slot, ontken dat die situasie met die voorspeler Mohamed Salah sy gesag ondermyn. Die Egiptenaar het Saterdag in ʼn skokkende onderhoud beweer die klub het hom in die steek gelaat en sy verhouding met Slot het skade gely. Slot het Salah op die bank gelaat in die laaste drie wedstryde, en uitgelaat vir vandag se Kampioeneliga-wedstryd teen Inter Milan. Slot sê hy is verras oor Salah se opmerkings:
# En rugby: ‘n Goue medalje van 1995 se Wêreldbekertoernooi word vandag opgeveil. Dit behoort aan die voormalige Springbok-losvoorspeler Adriaan Richter, wat dit ontvang het na Suid-Afrika se oorwinning van 15-12 oor die All Blacks in die eindstryd op Ellispark. Hy het nie in die wedstryd gespeel nie, maar was deel van die kampioenspan, onder andere as kaptein van Suid-Afrika in hul groepoorwinning oor Roemenië, en het twee drieë teen Kanada gedruk. Die Old Johannesburg Warehouse Auctioneers het ‘n beginprys van 30-duisend-rand bepaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….