Nuus 11:00
BULLETIN 9 Desember 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika gaan multilaterale handelsonderhandelinge in Davos voer
# Forum for South Africa beywer hom vir sanksies teen AfriForum en Solidariteit
# En krieket: Markram sê die T20-reeks teen Indië is ‘n goeie geleentheid voor die Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê voortgesette spanning met Amerika sal die Suid-Afrikaanse afvaardiging nie afskrik om volgende jaar op die Wêreld-ekonomiese Forum in Davos aan multilaterale handelsgeprekke deel te neem nie. Suid-Afrika se verhouding met Amerika is om verskeie redes gespanne, onder meer die instel van 30-persent-tariewe, die G20, die staking van befondsing en hulp aan die land, en die beskuldiging van volksmoord teen Afrikaners. Lamola sê hy twyfel of daar enige platform in Davos sal wees om met Amerika oor bilaterale betrekkinge te onderhandel.
Forum for South Africa sê intussen organisasies soos AfriForum en Solidariteit moet gestraf word omdat hulle leuens oor die land in Amerika versprei. Die drukgroepe wie se besoeke aan Amerika die afgelope maande opslae in die media gemaak het, word beskuldig dat hulle met buitelandse magte saamwerk om Suid-Afrika se soewereiniteit te ondermyn. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, stel voor AfriForum en Solidariteit se status as burgerregtebewegings word opgehef en hulle word strafregtelik aangekla omdat hulle volgens hom die staat aanval:
# Freedom Under Law sê Menzi Simelane is nie bevoeg of ‘n geskikte persoon vir die pos van Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging nie. Hy is een van ses kandidate op die kortlys ondanks die Johannesburgse Vereniging van Advokate se aansoek dat hy van die rol geskrap word omdat hy onbevoeg is om te praktiseer. Simelane is in 2009 as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag aangestel, maar die Konstitusionele Hof het dit drie jaar later tersyde gestel. Die organisasie sê enige pogings om Simelane aan te stel, is onregverdigbaar.
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal in hernude gevegte oor ʼn grensgeskil tussen Thailand en Kambodja het tot tien gestyg. Geweld het gister uitgebreek, minder as twee maande nadat die lande ʼn gesamentlike vredesverklaring onderteken het. Kambodja sê nog twee burgerlikes is oornag dood in bomaanvalle deur Thaise magte, wat sy sterftesyfer op sewe te staan bring. Thailand sê minstens drie van sy soldate is dood. Die woordvoerder van Thailand se Ministerie van Buitelandse Sake, Nikorndej Balankura, sê Kambodja se aggressie is onregverdigbaar:
# Krieket: Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, glo die reeks teen Indië is die perfekte geleentheid vir spelers om hulself te bewys, veral met die oog op volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. David Miller is ingesluit in die groep van 16 terwyl die snelbouler Anrich Nortjé ook na meer as ‘n jaar terugkeer. Die reeks van vyf wedstryde begin vanmiddag in Cuttack. Die veiling vir die Indiese Premierliga vind volgende Dinsdag in Abu Dhabi plaas en Markram erken spelers wil dalk beïndruk:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-208 -dollar. Die prys van goud is vier-duisend-182-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….