Nuus 08:00
BULLETIN 9 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê daar is geen diplomatieke probleem met die VSA nie
# ‘n Voertuig wat gekoppel word aan die moord op Marius van der Merwe is in Alexandra gevind
# En daar was ‘n kragtige aardbewing teen die kus van Noord-Japan
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê daar is geen diplomatieke probleem met die VSA nie en Suid-Afrika is besig om ‘n ambassadeur in Amerika aan te stel. Die administrasie van president Donald Trump het tariewe van 30-persent op alle Suid-Afrikaanse invoere ingestel, en alle befondsing en hulp aan die land gestaak,. Hy het ook Kongreswetsontwerpe en ander maatreëls ingestel wat ‘n hersiening van bilaterale bande vereis. Trump het die land ook van volksmoord teen Afrikaners beskuldig. Godongwana sê die fokus is op handelsonderhandelinge met die VSA, wat goed verloop.
# Die Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola het bevestig die polisie het een van die twee voertuie opgespoor wat gebruik is in die moord op die Madlanga-kommissie-getuie Marius van der Merwe. Hy is Vrydag buite sy huis in Brakpan doodgeskiet. Masemola het die Van der Merwe-gesin gisteraand oor die vordering in die saak ingelig. Hy sê ‘n wit Chevrolet-bakkie wat in Alexandra gelos is, pas die beskrywing van die voertuig wat op die aand van die moord op geslotekring-beeldmateriaal gesien is:
# Die vakbond Numsa hou vandag ‘n plakkaatbetoging buite die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se kantoor in Pretoria. Hy eis onmiddellike ingryping by die voortslepende krisis by SA Steel Mills en dat dringende kwessies by ArcelorMittal South Africa hanteer word. Numsa-woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê hulle is diep bekommerd dat die sakeredding-praktisyns wat deur die NOK aangestel is, Alfeco bevoordeel. Dis ʼn bieër wie se sogenaamde prestasie tot dusver dui op afnames in produksie en verswakkende arbeidsverhoudings:
# ʼn Aardbewing van 7,5 het gister die noordoostelike kus van Japan getref. ʼn Tsoenami-waarskuwing en ontruimingsbevel is uitgereik, maar intussen opgehef. Die aardbewing was in die Aomori- en Hokkaido-streke en ongeveer 900-duisend mense moes die gebied ontruim. Die brand- en rampbestuursagentskap sê 23 mense is beseer, waarvan een ernstig is. Die meeste is deur vallende voorwerpe getref. Japan se eerste minister, Sanae Takaichi, sê haar regering werk saam met plaaslike amptenare om die skade te bepaal en noodmaatreëls in te stel.
# Sokker: Liverpool se bestuurder, Arne Slot, ontken dat die situasie met voorspeler Mohamed Salah sy gesag ondermyn. Die Egiptenaar het Saterdag in ʼn skokkende onderhoud beweer die klub het hom in die steek gelaat en sy verhouding met Slot het skade gely. Die bestuurder het Salah vir Liverpool se laaste drie wedstryde op die bank gelaat, en hy is nie ingesluit by die groep wat vandag in die Kampioeneliga teen Inter Milan uitdraf nie. Slot sê hy is verras deur Salah se opmerkings:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-en-48-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-195-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….