Nuus 07:00
BULLETIN 9 Desember 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC se verliese by die stembus was nie per ongeluk nie
# ‘n Lasbrief vir inhegtenisneming is uitgereik vir een van die Phala Phala-beskuldigdes
# En die Franse president sê Rusland begin die uitwerking van Westerse sanksies voel
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party se verliese in die verkiesing was nie per ongeluk nie, maar is veroorsaak deur korrupsie, staatskaping, mislukte dienslewering en ekonomiese stagnasie. Hy het gister die party se middeltermyn-verslag by die vyfde Nasionale Algemene Raad in Boksburg, Ekurhuleni, gelewer. Mbalula sê die terugslag wat die ANC in 2024 se nasionale en provinsiale verkiesings gely het, was erger in KwaZulu-Natal en Gauteng:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika toon tekens van ekonomiese verbetering, met groei en stygende sakevertroue. Probleme soos misdaad, korrupsie en burokrasie bly egter struikelblokke. Die buro doen ‘n beroep op die regering om dringend ‘n onafhanklike anti-korrupsie-liggaam te stig, kritieke infrastruktuur te beskerm en hervormings in elektrisiteit, water en logistiek te implementeer. Die Buro stel ‘n duidelike doelwit van drie-persent ekonomiese groei, ‘n drie-persent begrotingstekort en drie-persent inflasie oor drie jaar voor.
# ‘n Lasbrief vir inhegtenisname is uitgereik vir een van die beskuldigdes in die Phala Phala-inbraaksaak. Ndilinasho David Joseph, wat tans uit is op borgtog van tien-duisend-rand, het Maandag versuim om saam met twee medebeskuldigdes in die Modimolle-streekshof in Limpopo te verskyn. Landdros Peter Manthate het die uitreiking van ʼn lasbrief vir Ndilinasho se inhegtenisneming goedgekeur. Laasgenoemde is volgens berigte siek, maar die lasbrief staan oor tot 13 Januarie volgende jaar. Die drie word aangekla van huisbraak, diefstal en sameswering om in te breek om te steel.
# Die DA vra ‘n dringende ondersoek na Johannesburg se groeiende afhanklikheid van watertenkwaens sedert 2023. Volgens die party het die munisipaliteit nie daarin geslaag om nasionale watertoelaes te kry nie en vertrou te veel op watertenkwaens, wat baie gemeenskappe sonder water laat. Belinda Kayser Echeozonjoku van die DA waarsku langdurige wateronderbrekings en swaar afhanklikheid van tenkwaens dui op swak beplanning en bestuur:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê sanksies wat die Europese Unie en Amerika die afgelope maande teen Rusland ingestel het, het tans ʼn groot uitwerking op Rusland se ekonomie. Hy het gister in Downing-straat in Londen met die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky, Britse eerste minister Keir Starmer, en Duitse kanselier Friedrich Merz beraadslaag. Macron sê druk op Rusland het momentum geskep vir gekoördineerde, diplomatieke gesprekke:
# Gholf: LIV-gholf se uitvoerende hoof, Scott O’Neil, sê hulle beraadslaag steeds met die amptelike wêreldgholf-ranglysraad om volgende jaar amptelike gholfranglyspunte vir spelers te verseker. Die Saoedi-befondste liga se aanvanklike poging om wêreldranglyspunte vir sy spelers te kry, is in Oktober 2023 eenparig verwerp weens sy formaat van 54 putjies. Van volgende jaar af word die meer tradisionele 72-putjie-toernooie egter gespeel. O’Neil sê die besluit om die formaat te verander word ook deur kommersiële werklikhede gedryf, en voeg by die onmiddellike prioriteit is die liga se groei en wêreldwye uitbreiding.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-172-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-196-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….