Nuus 14:00
BULLETIN 8 Desember 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE eis die bekendmaking van ‘n geheime intelligensieverslag oor misdadige infiltrasie
# Duisende mense vlug van die grens tussen Thailand en Kambodja na ‘n toename in vyandighede
# En rugby: Opwindende kragmetings wag in die derde ronde van die Wêreldsewesreeks in Singapoer
# COPE eis die onmiddellike bekendmaking van sleutelgedeeltes van ‘n geklassifiseerde intelligensieverslag oor misdadige infiltrasie van die regstelsel wat in November verlede jaar opgestel is. Die woordvoerder, Pakes Dikgetsi, sê die verslag onthul georganiseerde misdaadgroepe betaal aanklaers en prokureurs om borgtog vir gevaarlike verdagtes te verseker. Hy vra president Cyril Ramaphosa om op te tree, die aanbevelings van die Zondo- en die Mufamadi-kommissie in te stel en openbare vertroue en veiligheid te herstel:
ActionSA in Gauteng sê intussen die provinsie beleef ‘n georganiseerde misdaadnoodtoestand en onskuldige gemeenskappe betaal die prys vir die staat se versuim om orde te handhaaf. Dit volg na ‘n skrikwekkende massaskietery die naweek by ‘n taverne in die Saulville Hostel, Atteridgeville, in die weste van Pretoria, waar minstens 12 mense dood en 13 beseer is. ActionSA se woordvoerder, Zwelithini Mtshali, sê inwoners in townships, voorstede en informele nedersettings is onder beleg terwyl misdadigers met toenemende vermetelheid optree:
# Die Wes-Kaap het sy bewaringsgebied met 47-duisend hektaar uitgebrei, insluited twee nuwe natuurreservate, Waterkloof en Zebraskop in die Klein Karoo, die uitbreiding van Anysberg in dieselfde streek en die Knersvlakte in Namakwaland. Luke Folb van CapeNature sê die toevoegings beskerm bedreigde plante en natuurlewe, insluitend Kaapse bergsebras, en verbeter landskaps-verbinding. Hy voeg by die uitbreiding ondersteun bioverskeidenheid, klimaatsveerkragtigheid en die 30-persent grondbewaringsteiken teen 2030:
Nuus uit die buiteland:
# Duisende burgerlikes vlug van die grens tussen Thailand en Kambodja na ‘n toename in vyadighede tussen die twee lande. ‘n Thaise militêre woordvoerder sê vegvliegtuie het Kambodjaanse militêre stellings gebombardeer nadat ‘n Thaise soldaat in ‘n skietgeveg dood is. Dit is die ernstigste konfrontasie tussen die twee lande sedert ‘n ooreengekome wapenstilstand in Julie. Maleisië se premier, Anwar Ibrahim, waarsku die hernude botsings loop die gevaar om die noukeurige werk te laat ontrafel wat gedoen is om die verhouding tussen die twee bure bestendig te maak.
# Rugby: Suid-Afrika is in Groep A saam met Fidji, Groot-Brittanje en Spanje geloot vir die Singapoerse Sewes einde Januarie. Die Blitsbokke het Argentinië gister in die eindstryd 21-19 verslaan en daarmee hulle tweede agtereenvolgende Kaapstadse titel verower. Argentinië is saam met Frankryk, Nieu-Seeland en Australië in ‘n moeilike Groep B. In die vroueloting sal Australië, wat in Kaapstad gewen het, in Groep A kragte meet met Amerika, Japan en Fidji, terwyl Nieu-Seeland teen Frankryk, Kanada en Groot-Brittanje in Groep B te staan sal kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-990-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-203-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….