Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 December 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbok-sewes het Argentinië naelskraaps 21-19 geklop om die eerste span te word wat sy Kaapstadse Wêreldsewesreekstitel suksesvol verdedig. Suid-Afrika het ‘n drie in die laaste minuut gedruk om die oorwinning te beklink en die naweek as die enigste onoorwonne manspan afgesluit. Fidji het Frankryk 26-19 verslaan om derde te eindig. In die vroue-eindronde het Australië Nieu-Seeland 26-12 verslaan. Die Blitsbokke se kaptein, Impi Visser, sê hy is trots op hul vertoning in die eindstryd:
# Gholf: Kristoffer Reitan het geskiedenis gemaak toe hy die eerste Noorweër geword het om die Nedbank-gholfuitdaging by Sun City te wen. Hy het Jayden Schaper van Suid-Afrika en Dan Bradbury van Engeland uitgestof met ‘n laaste ronde van 72 vir ‘n oorwinning van een hou op 17 onder baansyfer. Dis die 27-jarige Reitan se tweede DP World-toertitel van die seisoen wat sy eerste deelname aan die Meesters verseker. Hy sê om die laaste ronde met ʼn voorsprong van vyf houe te begin, het geweldige druk op hom geplaas:
# Krieket: Die Protea-vroue het Ierland met 65 lopies verslaan in die tweede T20 in die Paarl om die reeks van drie wedstryde te beklink. Faye Tunnicliffe het 51 lopies aangeteken en die gasvroue het 201 vir vyf bereik. Ierland is daarna beperk tot 136 vir drie, met Chloé Tryon wat twee paaltjies vir 24 lopies platgetrek het. Suid-Afrika het die eerste kragmeting met 105 lopies gewen. Die derde en laaste wedstryd vind Woensdag in Benoni plaas voor die spanne hul aandag na die eendagreeks verskuif.
Nog krieketnuus: Australië het sy voorsprong in die Wêreld-toetskampioenskap vergroot na ʼn perfekte rekord in sy eerste vyf wedstryde. Die Aussies loop nou 2-0 voor in die reeks om die As nadat hulle Engeland gister met agt paaltjies verpletter het in die tweede toets in Brisbane. Engeland het teruggesak na sewende plek. Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, is steeds tweede met 36 punte na drie oorwinnings en een nederlaag. Sri Lanka is derde, terwyl Pakistan en Indië die top-vyf voltooi.
# En motorsport: Lando Norris het sy eerste Formule Een-bestuurderstitel opgeraap toe hy derde geëindig het in die seisoen se laaste wedren in Abu Dhabi. Die 26-jarige is McLaren se eerste wêreldkampioen in 17 jaar en die elfde Brit wat die kroon dra. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen, sy agste oorwinning van die seisoen, terwyl Norris se spanmaat, Oscar Piastri, tweede was. Norris sê dis wonderlik om sy droom te verwesenlik ná ʼn lang, taai seisoen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….