Nuus 12:00
BULLETIN 8 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê Suid-Afrika is ‘n volwaardige mafia-staat
# Vakansie-padblokkades word verskerp met beamptes wat honderde onveilige voertuie van die pad haal
# En krieket: Stokes bevraagteken Engeland se geestelike ingesteldheid na die nederlaag in die tweede toets om die As
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty sê Suid-Afrika is nie meer ‘n mislukte staat nie, maar ‘n volwaardige mafia-staat. Dit volg nadat Marius van der Merwe voor sy huis in Brakpan, Gauteng, doodgeskiet is nadat hy verlede maand voor die Madlanga-kommissie getuig het. Partyleier Jack Miller sê ondersoekbeamptes, aanklaers, getuies en verklikkers word elke jaar in die land vermoor omdat die stelsel moordenaars beloon en diegene straf wat die waarheid vertel.
Intussen sê die Ahmed Kathrada-stigting die moord op Van der Merwe het ‘n baie dieper betekenis. Van der Merwe was bekend as Getuie D voor die kommissie. Neeshan Balton van die stigting sê ‘n kersligwaak is by sy huis in Brakpan gehou. Hy sê verklikkers word geteiken, en bepleit dringende hervormings om diegene wat uitpraat oor korrupsie te beskerm:
# Verkeersbeamptes het voor die naderende feesgety landwyd padblokkades verskerp en 229-duisend voertuie binne ses dae nagegaan. Owerhede het 662 voertuie van die pad gehaal omdat hulle onpadwaardig was, insluitend weens gladde bande, foutiewe remme, gekraakte voorruite en lekkende enjins. Die provinsies met die grootste aantal onpadwaardige voertuie was die Oos-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Meer as 700 voertuie is ook geskut vir bestuur sonder die nodige vervoerpermitte.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê dis duidelik dat sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, nie gereed is om die vredesvoorstel te aanvaar nie. Gesprekke tussen die twee lande se onderhandelaars het die naweek in Miami geëindig met onopgeloste vrae oor sekerheidswaarborge en kwessies oor grondgebied. Zelensky sê die onderhandelings was nie maklik nie, maar wel opbouend. Trump sê die voorstel sal vrede bring tussen Oekraïne en Rusland:
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê sy span swig onder die intense geestelike druk van die reeks om die As. Dit volg nadat Engeland met agt paaltjies teen Australië verloor het op die Gabba en nou 2-0 agter is in die reeks. Stokes sê die span is goed wanneer hulle voor of agter is en moet inhaal, maar wanneer die wedstryd op die spel is, kan hulle nie die druk hanteer nie. Hy meen dis ‘n geval van geestelike ingesteldheid:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-661-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-211-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….