Nuus 08:00
BULLETIN 8 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa beklemtoon die belang van die uitbreiding van Suid-Afrika se handelsmark
# Die Afrika Mayibuye Movement wil ‘n volstrekte meerderheid in die 2026-verkiesing behaal
# En krieket: Die Protea-vroue beklink die T20-reeks teen Ierland met een wedstryd oor
# President Cyril Ramaphosa sê te midde van die onstuimige wêreldhandel-omgewing en skerp styging in tariewe, vind die regering dat Suid-Afrikaanse goedere in nuwe markte in aanvraag is. Hy het gisteraand die Progressiewe Sakeforum en die Progressiewe Burgerforum se presidensiële gala-dinee Boksburg, Johannesburg, toegespreek. Dis in aanloop tot die ANC se vierdaagse Nasionale Algemene Vergadering. Ramaphosa sê dis belangrik om Suid-Afrika se handelsmark uit te brei:
# Die Afrika Mayibuye Movement se president, Floyd Shivambu, sê hulle sal slegs ‘n koalisieregering aanvaar saam met vennote wat redelike eise stel. Die party het die naweek sy eerste nasionale konvensie by die Universiteit van Johannesburg in Soweto gehou. Die Afrika Mayibuye Movement beplan om in die 2026 munisipale verkiesing kandidate aan te stel wat ʼn stap is na die 2029 nasionale en provinsiale verkiesing. Shivambu sê hulle wil ʼn volstrekte meerderheid in die plaaslike verkiesing behaal:
# Die vakbond Numsa ruk vandag op na die Presidensie se kantoor in Pretoria om te eis dat die regering dringend ingryp oor werksverliese in die chroom-sektor. Die vakbond sê teen Desember 31 sal Glencore twee-duisend werksgeleenthede minder hê; Almar Investments het ongeveer 538 werkers afgelê; en Samancor het ʼn Artikel 189-kennisgewing uitgereik dat hy oorweeg om vyf-duisend werkers af te dank. Numsa sê die regering moet ʼn moratorium op afleggings aankondig.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu sê die tweede fase van ʼn Amerikaanse plan om die oorlog in Gaza te beëindig, is op hande maar waarsku verskeie belangrike kwessies moet nog opgelos word. In die huidige skietstilstand-ooreenkoms se eerste fase het Hamas die laaste 20 lewende gyselaars vrygelaat in ruil vir sowat twee-duisend Palestynse aangehoudenes in Israel. Die groep het ook die oorskot van 27 van die 28 gyselaars wat tydens die oorlog doodgemaak is, aan Israel oorhandig. Netanyahu sê dis belangrik dat Hamas ontwapen word:
# Krieket: Die Protea-vroue het Ierland in die tweede T20 in die Paarl met 65 lopies verslaan om die reeks van drie wedstryde met 2-0 te beklink. Faye Tunnicliffe het 51 lopies behaal en die gasvroue se telling ná hul 20 boulbeurte was 201 vir vyf. Ierland is daarna beperk tot 136 vir drie, met Chloe-Lesleigh Tryon wat twee paaltjies vir 24 lopies platgetrek het. Suid-Afrika het die eerste kragmeting met 105 lopies gewen. Die derde en laaste wedstryd vind Woensdag in Benoni plaas voor die spanne hul aandag na die Eendagreeks verskuif.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 22-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-310-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-211-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….