Nuus 13:00
BULLETIN 7 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Veiligheidsgroepering en die Madlanga-kommissie stem saam om veiligheid te versterk
# Minister Schreiber onttrek die 90-dae visumvrystelling vir Palestynse reisigers
# En sokker: Orlando Pirates wen die Carling-beker
# Suid-Afrika se Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur en die Madlanga-kommissie van ondersoek het ooreengekom dat sekuriteit by die kommissie se verhore in Pretoria verbeter moet word. Dit volg na die moord Vrydagaand van Marius van der Merwe, bekend as Getuie D, in Brakpan, Ekurhuleni. Die kommissie-woordvoerder, Jeremy Michaels, sê alhoewel omvattende maatreëls sedert die begin van die Kommissie ingestel is om getuies en amptenare te beveilig, het die vergadering die behoefte geïdentifiseer om hierdie maatreëls te verskerp deur die Veiligheidsgroepering en alle ander toepaslike rolspelers te betrek.
Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het intussen nuwe wetgewing aangekondig wat die beskerming van verklikkers sal versterk. Sy sê die konsepwetsontwerp op Beskerming en Openbaarmaking sal binnekort in die Parlement ter tafel gelê word:
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, het Suid-Afrika se 90-dae visumvrystelling vir gewone paspoorthouers uit Palestina teruggetrek. Die stap volg nadat ‘n groep van 153 Palestyne verlede maand by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park, Ekurhuleni, op ‘n huurvlug uit Kenia aangekom het. Schreiber sê ondersoeke het sistemiese misbruik van die vrystelling ontbloot. Reise wat bedoel was vir toerisme-doeleindes of kort verblyf, is egter aangewend om Palestyne uit Gaza te hervestig:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, het rampbestuurspanne ontplooi na gebiede in die provinsie wat deur erge weerstoestande geraak word. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê swaar reën het gisteraand oorstromings in die Sibongile-township naby Dundee veroorsaak. Hy sê ‘n 35-jarige vrou is tydens die voorval tragies meegesleur:
# Die GOOD-party in die Wes-Kaap sê die George Munisipaliteit laat nie mededinging tussen openbare vervoerdienste toe nie. Die party sê in die praktyk beteken dit dat die Go George-busdiens beskerm word teen mededinging met ander verskaffers soos Bolt en Uber. Rosa Louw van GOOD sê hierdie benadering is strydig met mededingingswetgewing, wat munisipaliteite nie toelaat om wettige mededingende dienste te blokkeer of te beperk nie:
# En sokker: Orlando Pirates het gister die Carling-uitklopbeker op dramatiese wyse by die nuwe Peter Mokaba-stadion ingepalm nadat hulle Marumo Gallants met 1-0 na ekstra tyd gewen het om hul tweede trofee van die seisoen te verseker. Die beslissende oomblik was net voor die einde van die eerste helfte van ekstra tyd toe Relebohile Mofokeng die doel aangeteken het in ‘n wedstryd wat vir 90 spannende minute sonder punte was. Die oorwinning volg na Pirates se MTN8-oorwinning in September.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….