Nuus 08:00
BULLETIN 7 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir sterker getuiebeskermingsmaatreëls na die moord op ‘n Madlanga-kommissie-getuie
# Minister Kubayi gaan mediadekking by die kommissie hersien na die moord op Getuie D
# En krieket, Suid-Afrika verloor die eendagreeks teen Indië met 2-1
# President Cyril Ramaphosa vra vir ‘n spoedige ondersoek en sterker getuiebeskermingsmaatreëls na die moord op Marius van der Merwe, bekend as Getuie D by die Madlanga-kommissie. Die 41-jarige is Vrydagaand verskeie kere voor sy gesin buite hul huis in Brakpan in Ekurhuleni geskiet. Ramaphosa sê Van der Merwe het die saak van geregtigheid en integriteit gedien deur by die kommissie te getuig. Die president sê die regering is verpletter deur sy moord:
Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê intussen haar departement hersien mediadekking by die kommissie na die moord op Van der Merwe. Kubayi het tydens die media-inligtingsessie gepraat oor die vordering wat gemaak is in haar eerste jaar in die amp in Pretoria. Die minister sê van der Merwe is beskerming aangebied, wat hy van die hand gewys het, omdat hy gedink het hy het dit nie nodig nie, aangesien hy ‘n sekuriteitsmaatskappy bestuur het:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê terwyl die 16 Dae-veldtog voortduur, moedig hy inwoners aan om slagoffers te ondersteun, mishandeling aan te meld en veiliger huise, gemeenskappe en vervoernetwerke te bevorder. Hy sê geslagsgeweld raak steeds talle vroue en kinders regoor die provinsie. Sileku sê baie oorlewendes is afhanklik van veilige, betroubare vervoer om toegang tot skuilings, maatskaplike dienste, gesondheidsorg en wetstoepassers te verkry, wat mobiliteit ‘n sleutelfaktor vir veiligheid en waardigheid maak:
# Pakistan en Afghanistan was die naweek in aanvalle langs hul grens betrokke. Die hernude konflik volg dae nadat vredesgesprekke op ‘n dooiepunt geëindig het. Geen ongevalle is bevestig nie. Die Afghaanse Taliban-woordvoerder Zabihullah Mujahid sê Pakistanse magte het Vrydagaand posisies in die Spin Boldak-distrik van Kandahar aangeval. Dit het ‘n reaksie van Afghaanse eenhede ontlok. ‘n Woordvoerder van Pakistan se eerste minister sê Afghaanse magte het met “onuitgelokte aanvalle” langs die grens in Chaman begin. Die grensskermutseling volg twee dae nadat gesprekke tussen die twee lande geëindig het.
# Rugby: Ondanks ‘n span vol Springbokke, kon die Bulle nie die Franse span van Bordeaux keer om hulle met 46 – 33 te klop in hul eerste Kampioenebeker-kragmeting op Loftus Versfeld in Pretoria nie. Die Bulle het teen rustyd met ‘n beslissende 33-22 voorgeloop, maar twee deurslaggewende geel kaarte in die tweede helfte het hul tol geëis. Bordeaux se aanvallende spel en oorheersende diepte het gelei tot 24 onbeantwoorde punte na die rustyd, wat ‘n waardevolle bonuspunt-oorwinning vir die verdedigende kampioene verseker het.
# En ten slotte krieket: Indië het Suid-Afrika oortuigend met nege paaltjies geklop in die derde en laaste eendagwedstryd in Visakhapatnam om die reeks met 2-1 te beklink. Nadat hulle die Proteas tot 270 beperk het, danksy vier paaltjies elk deur Kuldeep Yadav en Prasidh Krishna, het Indië die teiken maklik bereik. Die aanvangskolwer Yashasvi Jaiswal was die Indiese ster en het sy eerste eendagwedstryd-honderdtal van 116 balle aangeteken. Hy is ondersteun deur vinnige vyftigtalle deur Rohit Sharma op 75 en Virat Kohli op 65. Quinton de Kock het in Suid-Afrika se beurt 106 aangeteken, maar dit was tevergeefs.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….