Nuus 13:00
BULLETIN 6 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie is opsoek na drie verdagtes na die slagting by ‘n hostel in Pretoria
# President Ramaphosa veroordeel die moord op die Madlanga-kommissie-getuie
# En Gauteng teken 18 padsterftes aan in die eerste week van Desember
# Die polisie het ‘n klopjag na drie verdagtes van stapel gestuur na die moord op elf mense by ‘n taverne in die Saulsville Hostel in Atteridgeville, in die weste van Pretoria. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die verdagtes het vanoggend by ‘n taverne aangekom en lukraak begin skiet. ‘n Totaal van 25 mense is geskiet, tien is op die toneel dood en een slagoffer is later in die hospitaal oorlede. Sy sê drie jong kinders van tussen drie en 16 jaar is onder die oorledenes:
# President Cyril Ramaphosa het die wrede moord op ‘n lid van die sekuriteitsbedryf in Brakpan en voormalige Ekhurhuleni Metropolisiebeampte wat voor die Madlanga-kommissie getuig het veroordeel. Marius van der Merwe is gisteraand verskeie kere voor sy gesin buite hul huis in Brakpan geskiet. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die regering sal alles in die stryd werp om fluitjieblasers, insluitend getuies, te beskerm:
Intussen het die DA-leier, John Steenhuisen, sy stem gevoeg by die veroordeling van die koelbloedige sluipmoord op Van der Merwe. Hy sê sy moord is ‘n aanval op die grondbeginsels van verantwoordbaarheid en geregtigheid in Suid-Afrika. Steenhuisen sê hierdie soort mafiastaat-gedrag, waar fluitjieblasers doodgeskiet word omdat hulle die waarheid vertel, het die land nog nooit tevore op hierdie skaal ervaar nie:
# Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer vra dat mense waaksaam moet wees nadat die provinsie 18 sterftes regoor die provinsie in die eerste week van Desember aangeteken het. Die woordvoerder, Lesiba Mpya, sê voorlopige inligting dui daarop dat voetgangersterftes die hoogste bly. Hy sê die departement sal voortgaan om kritieke roetes te monitor en inligting uit te reik as deel van die Feesseisoen-padveiligheidsveldtog:
# Israel se kabinet het die staatsbegroting vir 2026 goedgekeur, insluitend 592-miljard-rand vir verdediging, ‘n toename van die 457-miljard-rand waarvoor vroeër begroot is. Ministers het Donderdag met ‘n marathonsitting begin, en die kantoor van minister van Verdediging, Israel Katz, het gister die verhoging vir die Israelse Weermag aangekondig. Die begroting gaan nou na die Parlement vir ‘n voorlopige stemming en gaan moeilik aanvaar word met Israel se regering wat toenemend verdeeld raak. Volgens wet moet dit teen Maart goedgekeur word, anders sal ‘n verkiesing uitgeroep word.
# En rugby: Die Springbokke skop volgende jaar se seisoen af met wat ‘n groot stryd kan wees teen Engeland op Ellispark in Johannesburg op 4 Julie. Dis deel van die nuwe Nasieskampioenskap waartydens die wêreldkampioen ook op Loftus in Pretoria teen Skotland sal speel, en in Durban teen Wallis. Die Bokke gaan in November in Europa teen Italië, Frankryk en Ierland te staan kom. Die All Blacks-toer in Suid-Afrika in die tweede helfte van die jaar sluit toetse in op Ellispark, in Kaapstad en op die FNB-stadion in Johannesburg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….