Nuus 16:00
BULLETIN 5 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu is uitgevra oor die regverdiging vir studies wat lei tot die ontbinding van die taakspan
# Umalusi bevestig die matriekeksamen-uitslae sal op 12 Januarie bekendgemaak word
# En rugby: Rassie bly aan by die Bokke tot 2031
# Die kommissaris van die Madlanga-kommissie, Sandile Khumalo, het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, uitgedaag oor sy besluit om die KwaZulu-Natalse taakspan vir politieke moorde te ontbind en voer aan hy het studies van 2019 en verlede jaar verkeerd vertolk. Khumalo beklemtoon die twee studies het nooit ontbinding aanbeveel nie. Mchunu dring aan die verslae het verskeie losstaande taakspanne ontmoedig en was ten gunste van gespesialiseerde eenhede vir ernstige en geweldsmisdade:
# Die gehalteversekeringsliggaam Umalusi het bevestig die nasien van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenvraestelle, wat op 18 November begin het, sal op die 18de van hierdie maand eindig. Umalusi se hoof, Mafu Rakometsi, sê punte sal tot die vyfde van volgende maand vasgelê word, en die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe sal die eksamenbestuur hersien. Hy sê die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal die uitslae op 12 Januarie aankondig:
# Die Kaapse Forum en Saai het ‘n vennootskap aangegaan om Kleurling-gemeenskappe, insluitend skole, te bevoordeel. Die forum se woordvoerder, Bernard Pieters, sê die vennootskap sal volhoubare landbouprojekte, soos groentetuine en pluimveeboerderye begin om leerders en jong werkers vaardighede sowel as blootstelling aan nasionale en internasionale geleenthede te bied:
# China se ambassadeur in Suid-Afrika, Wu Peng, sê sy land glo Suid-Afrika sal altyd ‘n belangrike en produktiewe lid van die G20 wees. Hy het in Johannesburg gepraat tydens die bekendstelling van president Xi Jinping se vyfde boek oor die Chinese regering. Wu sê daar was ‘n nuwe ontwaking in Afrika, en die vasteland maak vorderdering met sy doelwitte oor nywerheid, verbinding en die vermindering van armoede. Hy sê Xi se boek illustreer die geskiedkundige trajek van China se pad en sy bydraes tot die wêreld.
# Rugby: Rassie Erasmus gaan vir ‘n verdere vier jaar as Springbok-afrigter aanbly. SA Rugby se president, Mark Alexander, sê hulle is trots om hul toewyding aan uitnemendheid te herbevestig deur die ooreenkoms te verleng tot na 2031 se Wêreldbekertoernooi in Amerika. Hy sê dit weerspieël nie net Erasmus se merkwaardige rekord nie, maar ook sy blywende uitwerking om die spel se identiteit te vorm. Alexander sê die Bokke het onder Erasmus se leiding geskiedkundige mylpale bereik en deurgaans die standaard gestel vir prestasie op die wêreldverhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-285-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-225-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….